Dit is die tweede bestaansjaar van hierdie skoonmaakprojek, wat deur plaaslike besighede befonds word. Werklose mense in die omgewing word in 'entrepreneurs' spanne opgedeel en maak met trots seker dat Danabaai in 'n tip-top kondisie bly.
Elke spanlid het 'n geskenkpak ontvang as dankbetuiging vir sy of haar bydrae. Die twee beste spanlede is ook uitgewys en het met breë glimlagte weggestap met ete-geskenkbewyse. Spanlede kon vir mekaar stem en almal was dit eens dat Elton Roman die hardwerkendste spanlid is, en dat Lenie Tarentaal die grootste motiveerder is.
Die dankie-sê geselligheid is deur besighede van Danabaai moontlik gemaak, met Japie Krige en sy vrou as die groot dryfveer agter die inisiatief. Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, was 'n eregas, sowel as lede van die plaaslike wykskomitee.
Mev Ferreira het die entrepreneurs geloof vir hul goeie werk en gesê dat hul elkeen, elke dag die afgelope jaar, bygedra het dat Mosselbaai as die tweede groenste dorp in die Wes-Kaap gereken word.
Danabaai is, volgens haar, die enigste buurt in Mosselbaai wat 'n skoonmaakprojek van so 'n aard bedryf. "Ek sal skoonmaakprojekte in ander Mosselbaai buurte verwelkom - sien dit as 'n uitdaging!" het sy gesê.
Volgens Wyksraadslid Flip du Plessis, is dit belangrik om die mense op grondvlak te bedank. Hierdie jaarlikse dankie-sê funksie is ook vir hulle 'n motivering, om te weet hul werk gaan nie ongesiens verby nie.
Die entrepreneurs wat sorg dat Danabaai skoon en netjies bly, is Donderdag deur verskeie rolspelers bedank vir hul goeie werk.