MOSSELBAAI NUUS - Ses inbrake in slegs twee dae, dit is wat een ondersoekbeampte van die KwaNonqaba-polisie vandeesweek in Danabaai moes hanteer. In een geval is eiendom ter waarde van meer as R130 000 gesteel, in 'n ander geval was die inwoners tuis terwyl hul besteel is.
Dit is kommerwekkend dat die misdade by adresse regoor die woonbuurt voorkom. Boonop vind dit te alle tye van die dag of nag plaas, wat dit nog meer belangrik maak vir die gemeenskap om uiters waaksaam te wees.
Die KwaNonqaba-polisie vra Danabaaiers se hulp met inligting wat kan help om die misdadigers wat verantwoordelik was vir die volgende, en ander voorvalle, aan te keer:
• In A Ferox is gedurende die dag op Dinsdag, 12 Junie by 'n huis ingebreek en elektroniese toerusting soos skootrekenaars, tablette, DVD-spelers, asook juwele ter waarde van R131 000 is gesteel.
• In Floraweg op Sondagnag, 10 Junie, het misdadigers deur 'n motorhuis toegang verkry en 'n Xtreme-bergfiets ter waarde van sowat R7 000, asook koordlose bore gebuit.
• In Proteaweg is Maandag, 11 Junie by 'n huis ingebreek terwyl die inwoners tuis was. Boosdoeners het net na 03:00 hul weg oopgeforseer tot binne die huis en weggekom met twee selfone, 'n Samsung en Huawei, 'n tablet, rekenaartoerusting asook bosse sleutels, onder meer van besigheidspersele. Die skade beloop sowat R28 000.
• In A Africana is by 'n voertuig ingebreek en kontant asook sleutels ter waarde van R6 000 is gesteel.
• In Grata, op Maandag, 11 Junie, tussen 11:00 en 14:30 is toegang tot die eiendom gekry deur 'n deur oop te forseer. Eiendom ter waarde van sowat R16 000, onder meer 'n Ryobi-hoekslyper, verkykers, 'n kluis waarin 'n vuurwapen toegesluit was, asook kontant is gesteel.
• In P Longifolia is Maandagnag ingebreek in 'n voertuig wat in die oprit voor die huis, maar nie agter 'n hek nie geparkeer was. Klere en 'n Garmin GPS van ongeveer R5 000 is gesteel.
Kragtoerusting soortgelyk aan die foto is vandeesweek tydens 'n vlaag inbrake in Danabaai uit 'n woning gesteel.
Help polisie
Die KwaNonqaba-polisie vra dat persone wat oor inligting beskik wat kan help om die misdadigers aan te keer, om die ondersoekbeampte, sers Rudi Swanepoel (044 606 5600 of 082 488 0536) te kontak. Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word en positiewe inligting mag goed beloon word.
Die KwaNonqaba-polisie bevestig ook dat geen bewyse gevind kon word om tot nog toe enige persone - ook nie beweringe van sogenaamde blanke mans nie - met die misdade te verbind nie.
Enige persoon wat hierdie fiets opmerk, selfs enige tweedehandse handelaars wat hierdie fiets te koop aangebied word, word versoek om die KwaNonqaba-polisie se ondersoekbeampte, sers Rudi Swanepoel (044 606 5600) te kontak. Dit is een van die items wat vandeesweek tydens 'n vlaag van inbrake in Danabaai gesteel is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'