MOSSELBAAI NUUS - By ten minste drie gevalle die afgelope 16 tot 18 maande het Danabaai-buurtwag besonder goed presteer onder baie moeilike omstandighede.
Hoewel die buurtwag bygestaan is deur buurtwaglede van ander areas, is nog nie een van die ander buurtwagte in Mosselbaai tot dieselfde mate voor 'n toets gestel om hul paraatheid en gemeenskapsbydrae te bewys nie - 'n toets waarin Danabaai-buurtwag loshande presteer het.
"Ek kan net dankie sê aan elke buurtwaglid en ander buurtwagte - maar veral die lede van die Danabaai-buurtwag - wat telkens bereid is om onselfsugtig en sonder vergoeding hulself telkens beskikbaar stel om die gemeenskap se belange te beskerm.
Buurtwaglede was met die verwoestende brande en die onlangse twee voorvalle van geweldadige onrus telkens op hul pos. Hulle het onbaatsugtig inwoners se veiligheid verseker onder moeilike omstandighede en ongeag of dit dag of nag was.
"Besondere dank gaan ook aan die bestuurslede van die Danabaai-buurtwag wat onlangs weer eens bewys het wat in hulle steek. Hul opofferings was tot voordeel van Danabaai en al sy inwoners, selfs al is al die inwoners nie buurtwaglede nie. Dankie ook aan die borge wat buurtwaglede met water en koeldrank bygestaan het."
Dit is die mening van Otto Ploog, die voorsitter van die Danabaai-buurtwag wat telkens in die spervuur gestaan en leiding geneem het ter wille van die veiligheid van lewens, eiendom en die omgewing van Danabaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'