MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n beroep op inwoners om steeds water spaarsamig te gebruik aangesien damvlakke deurgaans daal.
In ag genome die ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie en die versoek dat inwoners gereeld hul hande moet was om die verspreiding van die koronavirus te voorkom, het die munisipale raad 'n aanbeveling aanvaar dat waterbeperkings eers ingestel sal word wanneer die Wolwedansdam se vlak tot onder 50% daal.
Mosselbaai-munisipaliteit implementeer waterbeperkings volgens die beleid vir die bestuur van wateraanvraag wanneer die hoofwatervoorsieningsbron, die Wolwedansdam se vlak tot onder 60% daal.
Ingevolge die bedryfsreëls van die departement van water en sanitasie, moet 'n beperking van 10% op alle huishoudelike verbruikers toegepas word wanneer die damvlak onder 60% daal.
Tydens die maandelikse raadsvergadering op Donderdag, 30 Julie, het die raad ingestem dat 'n vrywillige beperking van 10% met onmiddellike effek op alle gebruikers van drinkwater van krag word.
Damvlakke het die afgelope weke deurentyd gedaal en die onlangse reën het geen werklike impak daarop gemaak nie. Uit die verbruikerspatrone blyk dit dat die kultuur van waterbesparing wel gehandhaaf word, selfs al word meer water aan kwesbare gemeenskappe vir die nodige sanitasie voorsien.
Tans bestaan daar geen risiko vir watertekorte nie. Mosselbaai is in die gelukkige posisie om te beskik oor die ontsoutingsaanleg wat 15 Ml/dag drinkwater kan produseer, asook 'n herwinningsaanleg wat 5 Ml/ dag vir industriële doeleindes produseer.
Hierbenewens is daar agt boorgate in die landelike gebiede.
'n Ooreenkoms word tans met PetroSA onderhandel om, wanneer die damvlak tot onder 50% daal, 5 Ml/dag water vanuit die herwinningsaanleg te benut in ruil vir 'n ekwivalente kwota uit die Wolwedansdam. Die munisipale verbruik is ongeveer 23 Ml/dag gedurende die buite-piekperiode, wat toeneem tot ongeveer 31 Ml/dag gedurende die piekperiode.
Water uit die ontsoutingsaanleg is egter 'n duur bron. Dit is dus in almal se beste belang om die water in die plaaslike damme vir sover moontlik te bespaar.
Augustus 2020
Julie 2020
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'