Pauline Cupido was tot onlangs die Wes-Kaapse provinsiale leier van die African Christian Democratic Party (ACDP) en ook 'n lid van dié party se nasionale uitvoerende komitee. Tot en met Maart vanjaar was sy 'n lid van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement en het op verskeie staande komitees gedien. Op plaaslike regeringsvlak het Pauline Cupido ook diep voetspore getrap. In 2011 was sy die ACDP se burgemeesterskandidaat in Mosselbaai en in 2006 het sy Helen Zille as Kaapstad se burgemeesterskandidaat uitgedaag. In die provinsiale wetgewer het sy op verskeie komitees gedien en haar kundigheid tot groot voordeel van die provinsie ingespan.
Hendry Cupido was ook tot onlangs 'n ACDP-lid van die Nasionale Vergadering.
Die Cupido egpaar het vantevore in die NNP en DA gedien voordat hulle by die ACDP aangesluit het. Met hul terugkeer na die DA is die sirkel voltooi en sal die party voordeel trek uit hul ryke politieke ervaring en bewese gemeenskapsbetrokkenheid.
Pauline Cupido het gesê hulle strewe is om 'n konstruktiewe bydrae tot die DA in Mosselbaai en omgewing te lewer. Uit haar vorige posisie as voorsitter van die provinsiale Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SKOOR) komitee was dit duidelik dat die Weskaap die beste vaar in finansiële terme terwyl verskeie ander provinsies se plaaslike regerings van die een krisis na die ander beweeg.
"Ek glo die DA gaan die verskil maak in 2014," het sy bygevoeg.
Hendry Cupido het bygevoeg: "Ons is opgewonde, ons wil weer betrokke raak, mense motiveer, doen wat gedoen moet word om kiesafdelings te wen."
In 'n impromptu toespraak het Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira die Cupido's met ope arms ontvang en hulle ook in Mosselbaai welkom geheet. "Ons gaan julle nie toelaat om pensioenarisse te wees nie. Welkom in ons dorp en in die DA-familie."
Minister Botha het bygevoeg dat na sy mening nog heelwat groot politieke geeste tot en met die 2014 verkiesing die Cupido's se voorbeeld gaan volg en na die DA gaan oorloop. "Baie mense begin al meer besef die DA is die antwoord, mense met reuse potensiaal wat bereid is om met die DA saam te werk. Ek is opgewonde as die kwaliteit van leierskap veral van die jeug sien en glo die jeug en intellektuele gaan die party met hul onafhanklike oordeel en besluitneming na groter hoogtes lei.
"In 2014 sal ons die eerste van die geslag 'nuwe Suid-Afrikaners' by die stembus beleef, mense wat na 1994 gebore is. Die jeug bied ons beide rede tot trots en optimisme.
Hy het die Cupido's bedank vir hul bydrae aan Suid-Afrika en die provinsie: "Die DA party-leier en premier van die Weskaap, Helen Zille, heet julle ook welkom. Julle besluit om by die DA aan te sluit, dìt was nou 'n slim ding om te doen!"

Die gesoute politieke leiers van die ACDP, Pauline en Hendry Cupido, is in die DA verwelkom. Hier onderteken hulle hul DA lidmaatskapvorms terwyl Weskaap ministers Theuns Botha en Gerrit van Rensburg en DA Kiesafdeling Sekretaris Anton Dellemijn toekyk.