MOSSELBAAI NUUS - Die Demokratiese Alliansie (DA) nooi opposisiepartye om enige bewyse voor te lê van behuising wat onregmatig oorhandig sou wees.
Die DA as regerende party in Mosselbaai sê hulle neem hul oorsigrol ernstig op.
"Skoon regering is vir die DA belangrik. Daarom is daar oor die afgelope vyf jaar telkens ondersoeke gedoen sodra aantygings ontvang is."
Só sê DA Mosselbaai bestuur in 'n verklaring.
Die verklaring hou verband met die Mountain View-ontwikkeling op Mosselbaai.
"Die DA kan dit onomwonde stel dat die munisipaliteit se interne oudit wel oudits gedoen het op die Mountain View-ontwikkeling se lys van begunstigdes. Die ouditkomitee het geen onbehoorlike gedrag blootgelê nie en die verslag dien tans, soos wat die prosedure dit vereis, voor die ouditkomitee."
Volgens die verklaring word klagtes deur opposisiepartye oor onregmatigheid met behuising in Alma Park ook ondersoek. "Ook in hierdie geval is geen onbehoorlike optrede blootgelê nie en het die polisie intussen die saak gesluit."
Die verklaring lui verder dat die DA die begunstigdes vir die Mountain View-projek die kans op 'n beter lewe gun. "Vandat die eerste sooi vir die projek omgespit is, was dit reeds bekendgemaak dat die projek se begunstigdes die agterplaasbewoners is. Die projek gee ook middelklas-inwoners wat van die regering se FLISP-subsidies gebruik wil maak om 'n eie woning te bekom, 'n geleentheid om die eiendomsmark te betree."
"Die DA is opgewonde oor die voorgenome Motorsportmekka wat vir Mossdustria beplan word. Die planne is tydens 'n reeks van vergaderings in die stadsaal met almal wat 'n belang het, bespreek. Die munisipaliteit sal sowat 30 hektaar en sekere grootmaatdienste verskaf, terwyl die motorsportkodes hul onderskeie fasiliteite sal oprig."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'