MOSSELBAAI NUUS - In Junie vanjaar wag daar 'n lewensveranderende ervaring op 'n handjievol leerders van Curro Mosselbaai, wanneer hulle op 25 Junie na die VSA vertrek om 'n internasionale leierskapkonferensie, in Boston by te woon.
Die konferensie word deur Ambassador Leaders by Harvard aangebied.
Die konferensie duur ses dae en die leerders word in die koshuise van Harvard gehuisves. Ongeveer 500 leerders tussen die ouderdomme van 14 en 17, vanoor die hele wêreld, sal die konferensie bywoon. Die leerders word volgens streng akademiese vereistes en leierskapspotensiaal, gekeur.
Ter voorbereiding van die werksessies, tydens die konferensie, moet twee werkopdragte voor die konferensie, deur elke afgevaardigde voltooi word. Die een werkopdrag fokus op hongersnood in die onmiddelike gemeenskap. Hierdie is natuurlik op die oomblik van groot belang vir elke Suid-Afrikaner vanweë die nypende tekort aan water.
Ten einde die leerders voldoende voor te berei vir die werkopdrag en vir die beplande groepwerk tydens die konferensie, word 'n werksessie by Curro Mosselbaai, op Saterdag 12 Mei, gehou. Die leerders sal die volende aspekte moet aanspreek ten einde die werkopdrag te voltooi.
1. Wat is die aard van hongersnood in die gemeenskap?
2. Watter soort ondersteuning is daar vir inwoners van Mosselbaai, in dié opsig?
3. Is daar organisasies in die Mosselbaai gemeenskap wat hongersnood beveg?
4. Watter bydrae lewer die munisipaliteit in die bevegting van hongersnood?
5. Hoe kan Curro se leerders betrokke raak by enige projekte?
Na afloop van die konferensie sal die leerders New York vir drie dae, en Washington DC vir 'n verdere drie dae besoek. Tydens hierdie dae sal daar onder andere 'n egte bofbal op Staten Eiland bygewoon word. Een hele dag sal by 'n Six Flags oord deurgebring word. Ander besienswaardighede wat besoek sal word sluit natuurlik Times Square en die 9/11-gedenkterrein in New York en beide die Lincoln en Jefferson Memorial in Washington DC, in. Die groep keer op 8 Julie na Suid-Afrika terug.
Hierdie groep leerders van Curro Mosselbaai gaan in Junie vanjaar na die VSA vir 'n internasionale leierskapskonferensie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'