MOSSELBAAI NUUS - Dit was ‘n besonderse mooiweersdag wat die vrouens van P Pinifoliasstraat en Danabaai-omgewing op Vrydag, 28 Julie begroet het by die Cuppa For Cansa aangebied deur Maria Huggland.
Maria het haar eie unieke storie aangaande geliefdes in haar lewe geloop wat die kankerpad gestap het. Daarom het sy die besonderse geleentheid op Danabaai aangebied, ter ondersteuning van hierdie Kansa-fondsinsamelingsprojek wat juis fondse genereer vir die dienslewering aan die gemeenskap geraak deur kanker.
Pas terug uit Mali, het Maria geen moeite ontsien om ‘n gesellige atmosfeer te skep nie. Waar daar ‘n Cuppa is, is daar hoop. Dit was ook die mooi boodskap van Sunita Botha, ‘n kankeroorwinnaar wat haar ervaring met die gaste gedeel het.
Lucinda Viljoen, gemeenskapsmobiliseerder vir Kansa Suid-Kaap Karoo het dit bygewoon. Sy het die gaste toegelig oor die dienste wat deur Kansa gebied word in die breë gemeenskap, asook die omvang van die organisasie se werk.
Kansa se Cuppa For Cansa fondsinsamelingsprojek moedig vanjaar gasvroue aan om ‘n gesonder opsie te oorweeg. Tydens die funksie kan gesonde kos en drinkgoed voorgesit en resepte uitgeruil word.
Tydens Maria se Cup-geleentheid het elke gas ‘n geskenkie saamgebring vir die Kansa-sorgtuiste, maar ook ‘n gesonde resep. Hierdie wenresepte sal deurgestuur word na Kansa se resepkompetisie vanjaar.
Kompetisie
Gasvroue van Cuppa-funksies kan aan die kompetisie deelneem deur hul gesonder en alternatiewe resepte in te stuur. Die algehele wenner van die gesonder opsie-resep se naam word deurgestuur na Kansa-hoofkantoor. Die hoofborge vir die Cuppa For Cansa-projek is Shoprite Checkers en Glen-rooibos steun vir die tweede agtereenvolgende jaar ook die Cuppa-inisiatief. Die wenresepte sal in Shoprite Checkers se toetskombuis getoets word, en die nasionale wenner sal daarna aangewys word.
Die fokus vir vanjaar se Cuppa is om fondse in te samel en bewustheid te skep vir Kansa se Sorgsentrums soos die Irma Baruchi-huis op George. Kansa het meer as 30 sorgsentrums regoor Suid-Afrika wat meer as 300 gemeenskappe bedien en meer as 92 000 kankerpasiënte en hul gesinne bereik (statistieke van 1 April 2016 – 30 Maart 2017).
Die sorgsentrums bied ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste wat die volgende insluit: siftingstoetse vir kanker, berading en ondersteuningsgroepe, opvoeding oor kanker deur middel van gesondheidsinligting, toesprake wat handel oor gesondheid- en uitstallings, inligting oor Kansa-sorgtuistes en TLC-tuistes.
Enige iemand kan ‘n Cuppa For Cansa aanbied. Kontak Lucinda (082 66 33529) of stuur e-pos (lucinda@cansa.org.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'