MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete is nou die voorloper in die Wes-Kaap betreffende 'n tweede golf Covid-19-infeksies, met George wat tans die swaarste getref word.
Op Dinsdag 24 November het George 1 116 aktiewe gevalle aangeteken. George het reeds 5 314 gevalle van Covid-19 aangemeld.
Mosselbaai het op dieselfde dag 460 aktiewe gevalle van Covid-19 gehad en reeds 3 095 mense in die gebied, is met die virus gediagnoseer.
George en Knysna het die afgelope week 'n rekord getal nuwe Covid-19-gevalle aangemeld. Boonop is die getal infeksies hoër as wat George en Knysna tydens die eerste vlaag van infeksies aangemeld het.
Die Tuinroete is nou die episentrum van Covid-19-infeksies en nie meer Kaapstad, soos tydens die eerste vlaag van infeksies nie.
Met die vakansieseisoen om die draai, wonder besoekers dalk of die Tuinroete steeds 'n veilige vakansiebestemming is. Mosselbaai se munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê die gebied is oop vir besigheid en sal oudergewoonte besoekers hartlik verwelkom.
"Ons het die aandmarkte wat steeds voortgaan, die Ek Lief Afrikaans-musiekfees met groot name in Afrikaans sal weer op Hartenbos aangebied word en die woonwaparke is feitlik volbespreek."
Munispale bestuurder, adv Thys Giliomee doen 'n beroep op besighede en vakansiegangers om nie hul waaksaamheid teen die verspreiding van die virus te verslap nie.
"Die vakansie hoef nie gekanselleer te word indien die nie-farmaseutiese voorkomingsmaatreëls soos die dra van maskers, handewas en sosiale afstand gehandhaaf word nie. Mense moet net bedag wees en liefs in die buitelug uitspan."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'