MOSSELBAAI NUUS - Na 'n week van isolasie van die buitewêreld, meen Johan Jacobs, bestuurder van die Hartenbosversorgingsoord dat dit met die inwoners besonder goed gaan.
Die versorgingsoord het sy deure verlede week op Dinsdag, 17 Maart om 16:00 gesluit ten einde die inwoners teen die verspreiding van die Covid-19-virus te beskerm.
Dít volg na 'n aankondiging deur Badisa dat hulle by van hulle dienspunte soos residensiële fasiliteite 'n moratorium op besoekers plaas.
In solidariteit
"Ons sien 'n samehorigheid onder die inwoners wat net verstommend is," meen Jacobs. Hoewel aktiwiteite wat deur diensverskaffers van buite die versoringsoord sedert verlede week opgeskort is, het dit geensins die oues van stryk gebring om aktief te bly nie.
"Hier word vingerbord, bingo en kaart gespeel, lyndanse gedoen en dies meer. Ons doen alles in ons vermoë om steeds stimulerende aktiwiteite aan te bied."
'n Inwoner van die versoringsoord berig dat alles normaal verloop en dat dit goed gaan.
"'n Groepie van ons oefen twee keer 'n week en elke middag word 'n kort kerkdiens deur een van die inwoners gelei." Die versorgingsoord het 'n klein bibliotekie, die koerant word steeds afgelewer en daar is darem ook nog die televisie vir geselskap. "Ek mis die aangesig tot aangesig kontak met my naaste familie, maar ons gesels gereeld telefonies."
Jacobs noem egter dat daar, soos die aangekondigde 21 dae van inperking wat gister, 26 Maart begin het vorder, die situasie meer uitdagend kan raak.
"Dit is belangrik dat familie in hierdie tyd met senior burgers kontak hou. Ons sien die verskil wat kontak soos 'n video-oproep maak. Net die effek daarvan om iemand te kan sien doen wondere."
Jacobs het genoem dat, indien die weer dit toelaat, hulle selfs 'n braai in die versorgingsoord se binneplein beplan. "Saam met die inwoners hou ons goeie moed. Ons fokus op die positiewe. As personeel, is ons bevoorreg, selfs onder hierdie omstandighede om 'n verskil te kan maak in kwesbare mense se lewens."
'Ons is gereed'
'n Egpaar van in die sewentig wie se 95-jarige moeder by hulle woon, sê dat hulle die nuus aangaande die koronavirus se verspreiding die afgelope weke noukeurig volg en het hulle daarom fisiek asook geestelik op moontlike inperking voorberei. "Ons het familie dwarsoor die wêreld in onder meer China, Switserland en Nieu-Seeland en het op hoogte sake aangaande die virus gebly."
Die egpaar vertel dat hulle reeds die afgelope paar weke hulle immuniteitstelsel ondersteun deur vitamines te neem.
"Ons gaan nie tuis in 'n groef verval nie. Ons wil kreatief wees, ook in die kombuis en só werk met wat ons het dat ons nie nodig het om die huis onnodig te verlaat nie."
Hulle vertel dat hulle kerk op 'n kreatiewe manier uitreik deur WhatsApp-groepe waarop verneem word na mense se welstand en behoeftes, sou ouer mense byvoorbeeld nie inkopies kon bybring nie.
"Ons gesels ook met familie en vriende regoor die wêreld via WhatsApp om mekaar so te ondersteun. Ons het vol lewens gehad en gaan hierdie tyd gebruik om stories vir ons kinders en kleinkinders neerskryf. Ons is baie positief en gaan genoeg tyd inruim om stil te word en te bid, vir ons dorp, ons land en ons wêreld."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'