MOSSELBAAI NUUS - Vir die eerste keer sedert die aanvang van die tweede golf van Covid-19-infeksies, het die aantal aktiewe gevalle vandeesweek onder die piek van die eerste golf gedaal.
Op Woensdag, 20 Januarie was Suid-Afrika reeds vir 300 dae onderworpe aan 'n nasionale Covid-19-ramptoestandinperking.
Tog toon statistieke dat die aktiewe gevalle in die Wes-Kaap en in Mosselbaai aan die afneem is en dat die sogenaamde tweede golf van infeksies iets van die verlede is.
Die tweede vlaag het geëindig omdat aktiewe gevalle besig is om af te neem, het die provinsiale hoof van gesondheid, dr Keith Cloete, bevestig.
Hoewel dit bemoedigende nuus is, is die gevaar van die Covid-19-pandemie allermins verby en inwoners word steeds aangeraai om die nie-farmaseutiese voorkomings-maatreëls toe te pas, soos om altyd 'n gesigmasker te dra, 'n veilige sosiale afstand van ander te handhaaf en nougeset te saniteer.
Aangesien die Wes-Kaap minder Covid-19-infeksies ervaar, het die premier, Alan Winde die nasionale gesondheidsminister, Zweli Mkhize gevra dat sommige inperkings in die provinsie verslap word. Statistieke toon 'n 19% afname van aktiewe gevalle in Kaapstad en 'n afname van 18% in landelike gemeenskappe.
Veral verblydend, is dat hospitale volgens terugvoer van die Wes-Kaapse departement van gesondheid asem skep na die skerp toename in aktiewe gevalle die afgelope paar weke.
Deurgaans het Mosselbaai se hospitale genoeg kapasiteit gehad om aan die behoefte te voldoen en alle krediet gaan aan die bestuur en gesondheids-orgpraktisyns vir hul werksywer en toegewyde diens aan die gemeenskap.
Mosselbaai-munisipaliteit is versigtig optimisties wanneer die statistieke in oënskou geneem word. "Die fokus moet deurentyd ook op die welstand van die gemeenskap van die groter Mosselbaai wees. Geleenthede vir die plaaslike ekonomie om weer kop op te lig is nou dringend noodsaaklik. Elke inwoner word versoek om te verseker dat hul voorkomende optrede die verspreiding van die virus voorkom.
Ondersteun asseblief sover moontlik plaaslike besighede sodat werksgeleenthede behoue kan bly," aldus die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'