MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Danabaai, Charlotte Barnard (61) het tydens die inperking begin pannekoek bak. 'n Pan met slegs een pannekoek in, het sommer vinnig tydens 'n middag se gebak tot 130 pannekoeke vermeerder.
Charlotte sê sy het besluit dat sy graag vir die gemeenskap, wat onder die Covid-19-virus steier op haar manier iets wou teruggee. En wat is dan lekkerder as 'n tuisgemaakte pannekoek, gevul met liefde?
Sy het met die blink plan vorendag gekom om pannekoeke vir inwoners op Danabaai, wat weens die virus moet isoleer, by hulle voordeure af te lewer.
Danabaai-buurtwag het Charlotte bygestaan met haar projek.
Gesinne kon na 'n selfoonnommer wat op die buurtwaggroep geplaas is, hulle bestellings aan Charlotte deurgee waarna sy heerlike warm pannekoeke van deur-tot-deur afgelewer het.
Charlotte skenk gereeld pannekoek aan inwoners en bied so troos vir die Danabaaiers wat weens die koronavirus isoleer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'