MOSSEL BAY NEWS - Na aanleiding van klagtes wat die Mossel Bay Advertiser ontvang het oor die gedrag van besoekers aan die De Bakke-strandgebied, het die Mosselbaai-munisipaliteit as volg terugvoer oor die aangeleentheid gegee.
Die Mosselbaai-munisipaliteit neem kennis van twee kampeerders wat op Maandag, 27 November, aangedring het om die waarnemende munisipale bestuurder te spreek en ongeskeduleerd deur hom te woord gestaan is oor hul misnoeë. Die kwessies geoppper is deurgegee aan die relevante departemente.
Die munisipaliteit verdoem enige gedrag wat in stryd is met nie net munisipale verordeninge soos die gebruik van drank in die openbaar nie, maar ook openbare onsedelikheid wat as deel van die mandaat van die Suid-Afrikaanse Polisiediens hanteer moet word. Die munisipaliteit betreur publieke wangedrag en doen ‘n beroep op plaaslike inwoners sowel as besoekers om na behore op te tree in openbare plekke, veral met die feesseisoen in die vooruitsig.
Lede van die publiek word aangemoedig om gedrag en oortredings, soos deur die kampeerders genoem, onmiddellik aan die beheersentrum 044 606 5000 te rapporteer of munisipale wetstoepassing direk te kontak (044 606 5204).
Die munisipaliteit neem sterk standpunt in rakende drankmisbruik, wat vergestalt word in die aanskaffing van die sogenaamde ‘booze bus’ wat vir die afgelope jaar reeds effektief tydens wetstoepassing met betrekking tot dronkbestuur aangewend word. Bywette betreffende die gebruik van alkohol in die openbaar, soos in hierdie geval, word effektief toegepas.
Indien enige onregmatige alkoholgebruik waargeneem word, word dit deur munisipale wetstoepassers aangespreek.
Drank word in beslag geneem, die oortreder word vervolg of versoek om die drank onder toesig uit te gooi, en/of om die perseel van die oortreding te verlaat.
Wetstoepassers verrig uiteenlopende take binne die 2007 vierkante kilometer waaruit die Mosselbaai munisipale-area bestaan en kan dus redelikerwys nie deurlopend op een plek geplaas word nie. Wanneer oortredings tydens patrollies bespeur word of sou ‘n klagte aan die beheersentum deurgegee word, word daadwerklik opgetree.
Dit dien gemeld te word dat die Blouvlagseisoen vanaf 1 Desember 2023 tot 31 Januarie 2024 strek, waartydens die Mosselbaai-munisipaliteit addisionele dienste by strande kontrakteer wat daadwerklik bydra tot publieke orde te midde die besige vakansieseisoen. Die dienste spreek onder meer toegangsbeheer, verkeersregulering en die onregmatige gebruik van alkohol in openbare plekke en die toepassing van ander toepaslike munisipale bywette, aan.