Bo-en-behalwe die geselligheid, was daar darem ook 'n gesonde kompeterende gees onder die groepe wat mekaar die stryd aangesê het ten einde vanjaar die wisseltrofee te verower.
Aan kreatiwiteit en vindiginrykheid om die tema uit te beeld, was daar immers geen gebrek nie. Party het kleurryke tentwonings opgerig tipies aan die nomadiese leefstyl gemerk aan die Bybelse tyd, wat allerhande rituele soos voete was en dies meer ingesluit het. Ander het weer Skrif-gefundeerde vredesmaaltye aangebied, terwyl sommige 'n meer hededaagse interpretasie van die Bybelse manier van doen geïmplementeer het.
Tafels het gekreun onder tipies Israeliese lekkernye soos gedroogde en vars vye, dadels, neute, granate en dies meer.
Die beoordelaars, Judy Meyer, vorige voorsitter van die Suid-Kaap Fynproewersgilde, Lenette Herrer, bekende Mosselbaaise sjef en Cornelle Carstens van die Mossel Bay Advertiser, het behoor-lik kopgekrap om op 'n algehele wenner te besluit, aangesien die algehele gehalte van kosse, dekor en aanbieding die kompetisie besonders straf gemaak het. Dienooreenkomstig is die aanbeveling gemaak dat die volgende kompetisie nuwe kategorieë sal moet insluit ten einde verskeie groepe se pogings na wense te kan beloon.
'Abigail se Vredesmaal', voorberei en aangebied deur die Glentana / Fraaiuitzight-groep, is as die uiteindelike wenners aangewys.
Twee 'slavinne' het selfs een van die beoordelaars Lenette Herrer se voete gewas, voor daar aangesit is vir ete.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS