MOSSELBAAI NUUS - Lede van die buurtwagte van Danabaai en Da Nova het die afgelope naweek basiese opleiding ontvang soos voorgeskryf deur die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid.
Buurtwagte is 'n broodnodige ondersteuningsdiens vir die SA Polisie. Dit is buurtwaglede, ‘n groep individue woonagtig in die omgewing of betrokke by die besighede waar die buurtwagbedrywighede uitgevoer word, wat hul dae en nagte vrywillig opoffer om hul onderskeie buurte ‘n veiliger omgewing te maak.
Dié lede is tydens die kursus met kennis en vaardighede oorverskeie veiligheidsaspekte toegerus.
Die buurtwagte dien as waghond en onontbeerlike skakel met die polisie vir die beveiliging van die gemeenskap teen kriminele bedrywighede en streef na die bevordering van ‘n veilige en beskermde omgewing.
Hoe meer inwoners uit 'n gemeenskap by hul buurtwag aansluit, hoe meer eweredig kan die las verdeel word.
Lede van die Da Nova-buurtwag wat onderneem het om hul deel te doen om die area veiliger te maak.
Daarom word enige belangstellendes genooi om met hul onderskeie polisiestasies kontak te maak om by buurtwagte in te skakel en ook hul deel te doen vir die veiligheid van hul woonomgewing.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'