MOSSELBAAI NUUS - Oproerigheid waartydens lede van die buurtwag in Sonskynvallei ernstig aangerand is, het gedurende die afgelope naweek plaasgevind.
Na bewering is die verdagtes deel van die groep nuwe inwoners wat onlangs vanaf Powertown na Sonskynvallei verhuis het.
Die twee buurtwaglede wat aangeval is se voertuie is ook tydens die oproerigheid beskadig, berig kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisiestasie.
Een van die buurtwaglede is met 'n gholfstok aangerand wat tot die in hegtenisname van 'n 19-jarige man gelei het.
Die man is aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Kaptein Fourie het bevestig dat verdere in hegtenisnemings sal volg.
"Die polisie is op soek na die 19-jarige verdagte se 23-jarige broer en daar sal verdere sake aanhangig gemaak word teen nog verdagtes," het kapt Fourie gesê.
Die buurtwaglede was op patrollie in die vroegoggendure van Sondag, 10 Desember toe die voorval plaasgevind het.
Volgens een van die buurtwaglede, het hy en sy patrolliemaat kort na 01:00 'n jong man wat sy vriendin glo aangerand het voor stok gekry en dit het aanleiding tot hulle aanranding gegee.
"Ons voertuie se is ook lelik beskadig. Maar daai gaan my nie stop nie.
"Ek gaan aangaan met my werk asof niks gebeur het nie," het die buurtwaglid aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
"Die buurtwag is daar om die gemeenskap te dien en te beskerm.
"Die Da Gamaskop-polisie sal geen insidente van geweld teenoor aanranding van buurtwaglede duld nie.
"Persone wat hulle hieraan skuldig maak, sal onverwyld vervolg word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'