MOSSELBAAI NUUS - Dit is 'n voldwonge feit dat buurtwagbe-trokkenheid by die stryd teen misdaad in Mosselbaai, 'n wesenlike verskil maak.
Nog 'n onlangse voorbeeld hiervan, is 'n voorval wat op Vrydag, 23 Augustus plaasgevind het toe 'n verdagte in 'n rooftog vasgetrek is.
'n Vrou wat op Da Gamastraat gestap het omstreeks 17:00, is deur 'n onbekende man van agteraf te voet ingehaal. Hy het die vrou met 'n bierbottel wat hy by hom gehad het gedreig en het haar toe van haar sportsak beroof.
Die buurtwag het inligting aangaande die voorval ontvang, asook 'n beskrywing van die verdagte is verskaf. Buurtwagte in omliggende woongebiede is in kennis gestel om op die uitkyk te wees.
Intussen het die buurtwag in Da Nova berig ontvang aangaande honde wat onrustig blaf by 'n perseel in die buurt. By nadere ondersoek is 'n onbekende persoon wat onder 'n Wendy-huis op die perseel skuil, gevind.
Met die buurtwag se aankoms, het dit geblyk dat die persoon aan die beskrywing van die roofverdagte voldoen. Die buurtwaglede het die polisie gekontak en die verdagte is in hegtenis geneem. Die vrou se sportsak is ook op die perseel gevind en aan haar terugbesorg.
"Baie dankie aan die Da Nova-buurtwag, by name Martie Loubser en Roelf Shawinsky, asook die betrokke inwoners van Da Nova en polisie vir die wonderlike samewerking. So sal ons Mosselbaai veiliger kan maak."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'