MOSSELBAAI NUUS - 'n Vrou van Heiderand wat verlede Vrydag in groot benoudheid na haar sewe weke oue boerboel gesoek het, se dankbaarheid ken geen perke nadat die hondjie, wat skynbaar uit haar erf gesteel is, in die vroeë oggendure van Saterdag, 24 November aan haar terugbesorg is.
Erna Swarts vertel dat hulle drie honde, soos hulle gewoonte is, om 07:00 uit die huis geneem is om hulle draaie te loop. "Na 'n rukkie het twee van die honde terug in die huis gekom, maar toe ons na Bronco gaan soek was hy nêrens te vinde nie."
Erna, wat van die huis af werk, het gou besef iets skort en het na Bronco begin soek. Sy het ten einde raad ook by die buurtwag om hulp aangeklop. Vanweë die soektog en spanning, moes Erna van haar kliënte se afsprake skuif deur die loop van die dag.
Laat die Vrydagaand, het 'n vrou Erna gekontak en gevra of sy nog wakker is, aangesien sy graag die polisie na haar huis toe wou stuur om verder hulp te verleen.
Inwoners van die buurt het Erna deurlopend ondersteun, van inligting voorsien en uiteindelik, om 04:30 op Saterdagoggend, is Bronco aan haar terugbesorg. "Iemand wat Bronco gevat het, het hom glo vir R50 verkoop," vertel Erna.
Inligting opgevolg
"Heinrich Vallentyn het ook help soek en my deur die nag op hoogte gehou oor ons hondjie, dat hulle leidrae het," vertel Erna. Vallentyn het glo geskakel met 'n neef van hom, kst Jaede Fillies werksaam by die Da Gamaskop-polisiestasie. Konstabel Fillies en sy kollega sers Bradley Petersen was uiteindelik verantwoordelik daarvoor dat Bronco opgespoor is.
"Die lede het inligting ontvang en opgevolg. Vanaf ongeveer 20:30 op Vrydag, 23 November het hulle verskeie persele besoek op soek na die hondjie. Hulle het sukses behaal toe hulle by 'n perseel in Heunisstraat, Uitbreiding 8 besoek en die hondjie daar gekry het, waarna dit aan die eienaar terugbesorg is," berig kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Volgens kapt Fourie het die eienaar reeds 'n beloning uitbetaal aan diegene wat inligting verskaf het.
"Ek is so dankbaar teenoor almal vir hulle hulp en bystand. En al my kliënte wat leidrade gegee het, en hulle hulp en ondersteuning."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'