MOSSELBAAI NUUS - Die Heiderand-buurtwag het onlangs 'n boodskap ontvang aangaande twee verdagte mans wat oor 'n plaaslike opleidingsentrum se muur gespring het.
Buurtwaglede Peggy Roux en Megan Domburg het die toneel besoek en die mans gevind waar hulle vuurmaak en die plastiese omhulsel van koperkabels smelt.
Die buurtwaglede het die Mosselbaai-polisiestasie gekontak en die polisiebeamptes het op die toneel beslag op die koperkabels gelê en ondersoek ingestel na waar dit vandaan sou kom.
Die ondersoek het bewys dat die koperkabels gesteel is en die twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem. "'n Goeie verhouding tussen die polisie en die buurtwag is om hierdie rede belangrik," sê Roux.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'