Die gaste van Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, het die Stadsaal volgepak en hulle verlustig aan, onder meer, die strelende klanke van die Mosselbaai Ensemble.
Raadsdame Ferreira het gesê, "Die feit dat u miskien nie meer aktief is of betrokke by enigiets is of kan wees nie, beteken nie dat ons nie die stene wat u in die opbou en volhoubaarheid van ons samelewing gelê het, gering ag, of daarvan vergeet het nie.
"Elke dingetjie, of dit nou 'n moeder se opvoeding van haar nageslagte of 'n werk was wat op een of ander manier tot die lewenskragtigheid van ons landsekonomie bygedra het, is belangrik.
Geen ekonomie kan vooruitgang sonder selfs nederige hande-arbeid nie, en as dit u spe-sifieke bydrae was, kan u gerus wees dat u bydrae miskien baie groter is as wat u gedink het." Sy het ook senior burgers aangeraai om betrokke by liefdadigheids-, diens of kultuurorganisasies te raak.
Leerders van Curro Private Skool het vlytig as kelners opgetree en keurig bereide versnaperinge aangedra.
Oud en jonk het heerlik gekuier in 'n gesellige atmosfeer waar ou bande versterk en nuwe vriendskappe gesmee is.

Mevv Nellie Claassen en Stelena Marx het die Burgemeesterstee bygewoon saam met honderde ander Mosselbaaiers.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS