MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en die portefeuljevoorsitters van die onderskeie direktorate in die uitvoerende burgemeesterskomitee het vandeesweek in JCC afgeskop met die Mayco-uitreikaksie.
Mosselbaai-munisipaliteit is allerweë bekend vir die passie waarmee dienslewering in die groter Mosselbaai aangepak word.
Kotzé het tevore onderneem dat die burgemeesterskomitee hul oorsigrol oor dienslewering tot grondvlak gaan uitbrei deur direk met gemeenskappe in gesprek te tree.
“Elke inwoner, ongeag waar hulle woon, is geregtig op uitnemende dienslewering,” aldus Kotzé.
Vervolgens gaan gemeenskappe gevolglik die geleentheid kry om diensleweringsprobleme – en suksesse – direk met lede van die munisipaliteit se uitvoerende gesag op te neem.
Die volgende vergaderings vind plaas soos volg:
- 6 April, om 09:00 in die Sonskynvallei-gemeenskapsaal asook, dieselfde tyd, in die D’Almeida-gemeenskapsaal.
- 7 April, om 13:00 in die Reebok-gemeenskapsaal kry inwoners van Klein-Brakrivier, Groot-Brakrivier en Reebok geleentheid om gesprek te voer. Dieselfde dag, om 09:00, kry ook KwaNonqaba-inwoners in die KwaNonqaba-gemeenskapsaal geleentheid om oor dienslewering te gesels.
- Op 19 April, om 09:00 kan Danabaaiers naderstaan in die Danabaai-gemeenskapsaal, asook die Hartenbos-inwoners wat in die Hartenbos-biblioteeksaal te woord gestaan sal word.
- Op 3 Mei is dit om 09:00 die beurt van Greenhaven se inwoners in die Greenhaven-gemeenskapsaal, en Aslapark se inwoners kan gerus die geleentheid in die Aslapark-gemeenskapsaal bywoon, ook om 09:00.
- Op 4 Mei sal die afvaardiging Herbertsdale om 09:00 besoek. Die presiese lokaal sal nader aan die tyd bevestig word. Dieselfde dag, ook om 09:00, kry inwoners van die middedorp en Heiderand geleentheid om in die Stadsaal met die raadslede gesprek te voer.
- Op 5 Mei sluit die Roadshow voorlopig af met ‘n vergadering om 09:00 in die binnenshuise-sportsentrum in Uitbreiding 13.
Inwoners, gemeenskapsorganisasies en belanghebbendes word uitgenooi om deel te neem aan die verrigtinge en om eerstehands met die raadslede en burgemeester te gesels oor dienslewering in die groter Mosselbaai.