Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Dit is onwaarskynlik dat die Buffalo Rally volgende jaar weer by die De Bakke/Santos-woonwapark aangebied sal word.
Die voorsitter van die Nomads Motorcycle Club wat jaarliks die byeenkoms reël, Luderick Jacoby het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat die klub steeds Mosselbaai as gasheer verkies, maar hoogs waarskynlik die veertiende Buff op dié dorp in 2019 elders in die groter Mosselbaai sal hou.
Hoewel inwoners meen daar was vanjaar ietwat minder deelnemers as vantevore, het net meer as 5 000 motorfietsryers deur die kampterrein se hekke gestroom vir die naweek se opwinding, pret en vermaak.
Deelnemers het van sover as Kanada, Brittanje, Uganda en buurstate soos Namibië, Zimbabwe en Botswana opgedaag.
Hierbenewens het talle motorfietsryers op die dorp saamgetrek maar nie noodwendig hekgelde betaal nie.
Talle kampeerders is by die Punt-woonwapark opgemerk en volgens terugvoer was bykans alle akkommodasie-instellings in en om Mosselbaai vol bespreek.
Jacoby het Mosselbaai munisipaliteit se uitvoerende bestuur bedank vir die positiewe wyse waarop saamgewerk is om 'n veilige 13de byeenkoms op die dorp aan te bied.
Mosselbaai se burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het vanjaar saam met die organiseerders die massa motorfietse deur die dorp tydens die massarit gelei.
"Dit was 'n wonderlike ervaring," aldus raadsheer Levendal. Hy het die organiseerders geprys vir die goeie organisasie en die positiewe terugvoer wat allerweë ontvang is na afloop van die byeenkoms.
Steyn Rode van Guns & Roses, die bes verteenwoordigde klub op die 2018 Buffalo Rally, wys vir omstanders net hoe 'n "donut" gemaak word.Foto: Elaine van der Toorn
Groot pryse
Die prysgeld vir die man wat die verste afstand padlangs tot in Mosselbaai op sy motorfiets afgelê het, is ingepalm deur Ruan van der Merwe van Nelspruit. Apples Bruwer van Phalaborwa het as vroueryer die verste afstand afgelê.
Dave en Rose Williams van die Warlocks Motorfietsklub het as paartjie die langste afstand afgelê, terwyl Riaan Victor die prys verower het vir die verste afstand afgelê met die kleinste motorfiets.
Die 81-jarige Dieter Crowly is as oudste man wat deelgeneem het gekroon, en hoewel haar ouderdom nie onthul is nie, het Louise Knoetze van die Warlocks Motorfietsklub as die oudste vrouedeelnemer met die prys kon spog. Kevin van Dyk het die langste stuk grondpad - 350km - op sy motorfiets afgelê om in die naweek se pret te deel.
Die gewilde Guns & Roses is as die bes-verteenwoordigde motorfietsklub gekroon. Wat mooi motorfietse betref, het Sanet Mudge se Goldwing in die ope klas met die prys weggeloop, terwyl Pieter Delport met sy Kawasaki as algehele wenner van die Concourse D'Elegance gekroon is.
30ste Buff
Vir vyf deelnemers sal inskrywingsfooi vir volgende byeenkomste nie hoofbrekens besorg nie. Elke Buffer wat 30 byeenkomste bywoon, word daarvan vrygeskeld. Vanjaar het André van Heerden, Philip Koekemoer, Wallie Brandt van die Nomads, Deon Slabbert en Mannetjie Jacobs dié mylpaal bereik.
Die omgewing se jongklomp - en talle van die ouer garde - het oudergewoonte die sypaadjies langs die sirkelroete wat die massarit deur die dorp se strate gevolg het, van vroeg reeds op Saterdagoggend volgestaan.
Die skouspel was ook nie tot net die massarit beperk nie, maar die gratis toertjies deur die gewilde Le Riche-broers en die vertoonlokaalvoorkoms van motorfietse by die Concourse D'Elegance het baie aan entoesiaste gebied.
Die Guns & Roses-motorfietsklub het met die louere as bes verteenwoodigde klub weggeloop.
Pryse
Die allemintige kontantprys van R135 000 is ingepalm deur Gert Rautenbach van Pretoria, wat boonop spog met 'n naweek se geborgde verblyf by die V&A Waterfront-hotel in Kaapstad en 'n R8000 geskenkbewys as sakgeld.
Hy is met sy groot prys beloon deur Mej Buff, Charnelle Engelbrecht van Plettenbergbaai. Haar prinsesse is Lorraine Roux en Penny Burger.
Dorpenaars het verstom gestaan oor die netjiese wyse waarop die Nomands Motorcycle Club die terrein op Sondagoggend agtergelaat het. "Daar was nie eens 'n papiertjie wat rondgelê het nie."
Deelnemers en Mosselbaaiers met wie die Mossel Bay Advertiser gesels het, was dit eens: "Ons sien uit na die Buffalo Rally in Mosselbaai in 2019."
Mark van Wyk het ondanks sy gestremdheid steeds kans gesien om ander gestremdes die kans te gee om motorfiets te ry. Hy sê motorfietsry bly sy passie.
Foto's: Elaine van der Toorn, Dick van der Toorn, Grey Stopforth, Mariska Visagie, Sharlton Groenewald, Michael van Schalkwyk, Tersia Marais, Mandie Black en Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'