MOSSELBAAI NUUS - Die derde kwartaal het skaars begin toe een van Laerskool Vorentoe se leerders een oggend in die klas uitroep, "Kyk Juffrou, daar is 'n uil in die uilhuisie!"
"Die klas het soos een man opgespring en in verwondering deur die venster gestaar na die pragtigste Kaapse ooruil wat vlak voor ons klas se venster, rustig in die uilhuis gesit het", vertel juffrou Rosa Duvenhage, graad 1-klasonderwyser van Laerskool Vorentoe op Groot-Brakrivier.
"Dit was die begin van 'n baie opwindende verhouding met Bubo, soos die graad 1-klas haar gedoop het. Die naam Bubo is afgelei van die biologiese naam vir die Kaapse ooruil, Bubo Capensi.
"Baie vinnig het Bubo deel geword van Laerskool Vorentoe. Leerders het begin navorsing doen oor uile en ons kon haar elke dag dophou deur verskeie klasse se vensters.
"Die opwinding oor Bubo het verlede week 'n hoogtepunt bereik toe twee donsige kuikens hulle verskyning gemaak het.
"Laerskool Vorentoe voel baie bevoorreg dat Bubo ons terrein gekies het om haar kuikens uit te broei. Ons het net weer as skool en gemeenskap besef hoe bevoorreg ons is om ons eie kuikens in die lieflike dorpie groot te maak," vertel juffrou Duvenhage.
Bubo en haar twee kuikens in hul uilhuisie.
'n Trotse Bubo en een van haar kuikens. Die foto's is uit die graad 4-klas se venster geneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'