MOSSELBAAI NUUS - Die brug oor die Klein-Brakrivier sal vanaf 1 Februarie vir ses weke ontoeganklik vir verkeer wees aangesien dringende opgradering van die waterpypleiding geverg word.
Die projek behels die vervanging van die bestaande 400mm deursnee waterpyplyn tussen die Klein-Brakrivier watersuiweringsaanleg en die Langeberg reservoirs wat ná meer as 30 jaar in diens in 'n swak toestand is.
Die bestaande 400mm deursnee pyplyn word met ‘n 800mm deursnee pyplyn vervang.
Mosselbaai munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê die motivering vir die opgraderingsprojek is om tred te hou met die groeiende vraag na water deur die Mosselbaai-gemeenskap, asook om instandhouding aan die bestaande grootmaatwaterpyplyne te doen sonder onderbrekings in die watertoevoer na Mosselbaai.
Op die foto dui die blou lyn die alternatiewe roete wat tydens die duur van die bouwerk gebruik moet word om vanaf Riverside na Hartenbos te gaan. Die rooi lyn dui die roete aan wat in hierdie tyd gebruik moet word om vanaf Hartenbos na Riverside te gaan. Die geel lyn dui aan waar die pyp teen die brug geïnstalleer moet word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'