MOSSELBAAI NUUS - Susan Coetzee, 'n inwoner van Hartenrus Aftree-oord, het op Woensdag, 5 April, 90 jaar oud geword.
Geruime tyd al was dit haar begeerte om op dié groot dag deur die lug te sweef met 'n valskerm of hangsweeftuig.
Susan sê sy was nooit 'n baie waaghalsige dogtertjie nie, het nie vrugte gesteel of van dakke afgespring nie, maar het darem gereeld in 'n baie hoë moerbeiboom geklim om blare vir haar sywurms te pluk.
Tóé breek die groot dag aan. Susan het haar dogter en skoonseun aangesteek en hulle het saam met haar by Sedgefield (in tandem) gaan vlieg. Die personeel van Wild2Fly het haar op haar gemak gestel en sy was niks bang nie. Trouens, sy was baie opgewonde en was gretig om die harnas aan te trek en die lug aan te durf.
Skaars was sy en haar "vlieënier" gereed, of die wind het hulle opgelig. Sy sê dit was asemrowend om die see, die natuur en God se Skepping daar uit die lug te kon aanskou en bieg met blink oë dat sy dit baie graag weer sou wou doen.
Dié ma van twee kinders en 'n ouma van twee kleinkinders lees graag, kyk graag na Formule 1 motorwedrenne en stel baie belang in die ruimte, planete en sterrestelsels. Sendelinge wat in geslote lande werk, lê haar ook na aan die hart.
Haar resep vir 'n lang lewe? Sonder God se genade dwarsdeur 'n mens se lewe kan jy niks doen nie. Die lewe draai... soms is jy onder en soms bo.
'n Mens moet verandering aanvaar en die beste van jou omstandighede maak. En dit doen sy beslis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’