MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se brand-, redding- en rampbestuursdienste het onlangs swaar afskeid geneem van Niel (Daniël Willem Frederik Van Zyl) Noeth wat in 1990 sy loopbaan as brandbestryder hier begin het.
Sy kollegas beskryf hom as die persoon wat altyd sy dagtaak met 'n glimlag aangepak het ondanks die werksomstandighede.
"Hy is 'n ware staatmaker, 'n mens kon enige tyd 'n taak vir hom gee en hy het dit na beste van sy vermoë afgehandel.
"Tussen sy kollegas is hy beskou as 'n mensemens, 'n legend, die sout-van-die-aarde, saggeaard, geduldig. Hy het homself altyd beskikbaar gestel om te help waar hy kan."
By insidente het Niel altyd koelkop en kalm gebly. Hy was 'n uitstekende bestuurder van die departmentele voertuie en seker die beste bestuurder van een spesifieke voertuig naamlik Engine 2.
"Niel is baie lief vir sy koffie en het nooit 'n kans laat verbygaan om eers gou vining 'n koppie koffie te drink nie. Sy plek hier op A-skof is leeg. Ons mis hom al klaar hier tussen ons."
Niel Noeth (regs) saam met sy skofmaats van A-Skof.
Sy skofmaats verwys ook na sy omgee-ingesteldheid, sy liefde vir diere en sê hy het nog altyd 'n sagte plekkie vir die rondloperkatte in die omgewing wat hy uit eie fondse van kos voorsien het.
Vir baie mense is werk by die munisipaliteit net maar nog 'n werk. Vir Niel was dit 'n roeping om as brandbestryder sy gemeenskap te dien. Sy gelyke is moeilik te vind, sy skofmaats en die munisipaliteit sal sy toegewyde dienslewering mis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'