Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 42-jarige man wat in Januarie 2018 vanuit 'n plaashuis in die Brandwag-omgewing op polisielede en nooddiensvoertuie losgebrand het, is verlede week tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Leroi du Toit se ouers het die polisie ontbied na hulle plaas waar hy saam met hulle en 'n broer van hom gebly het. Die voorval het op Sondag, 7 Januarie 2018 gebeur.
Aanvanklik is vermoed dat 'n gyselaarsdrama hom afspeel, maar Du Toit se ouers en broer het ten tye van die skietery die perseel vrywillig verlaat en na veiligheid beweeg.
Die polisie moes spesialis-eenhede ontplooi wat ure lank met Du Toit onderhandel het voor hy homself aan die polisie oorgegee het. Verskeie polisie- asook nooddiensvoertuie is ten tye van die voorval beskadig.
Met Du Toit se inhegtenisname, is 'n aantal vuurwapens en 'n groot hoeveelheid ammunisie op die toneel gevind.
Hy is sedert sy inhegtenisname in aanhouding op George.
Ernstige misdaad
Du Toit is skuldig bevind op 13 aanklagte teen hom wat insluit roekelose bedreiging van 'n persoon of eiendom, kwaadwillige beskadiging van eiendom, asook 'n klag van die besit van 'n vuurwapen(s) en ammunisie met die intensie om 'n misdaad te pleeg of arrestasie te verhoed.
Ter verduideliking van die vonnis, het landdros Mandla gesê dat die straf wat die hof oplê, nie net ten doel het om die beskuldige te vergeld nie, maar dat dit as afskrikmiddel moet dien vir die pleeg van soortgelyke misdrywe. Sy het die misdrywe wat hy gepleeg het as baie ernstig bestempel en uitgebrei dat dit verswarend is omdat hy juis op die polisie geskiet het. Hierdeur, meen sy, het hy gewys dat hy geen respek vir die gereg het nie.
Voorts het sy het ook die belang daarvan uitgestip dat die gemeenskap deur die vonnis gedien moet word, omdat hulle daarmee tevrede moet wees as 'n toepaslike straf. Die gepaste vonnis, het sy uitgebrei, moet ook opgelê word ten einde die misdadiger die beste kans op rehabilitasie te bied.
Mandla het nie die drie jaar wat Du Toit in aanhouding was voor sy vonnis in ag geneem tydens vonnisoplegging nie, omdat die hof van mening is, dat hoewel dit sy reg is om die regsverteenwoordiging van sy keuse te bekom, hy dit as vertragingstegniek gebruik het.
Sy het dit ook voorgehou dat Du Toit in voorvonnisverslae beskryf is as 'n moeilike en hardkoppige mens, en daarom nie sal baat by korrektiewe toesig as toepaslike straf nie, omdat sy samewerking betwyfel word.
Du Toit se verdediging het aangedui dat hulle teen die vonnis gaan appèlleer.
Volgens inligting was Du Toit se ouers nie tydens die verrigtinge in die hof nie. Klaarblyklik woon hulle reeds 'n geruime tyd nie meer die hofverrigtinge by nie.
Lees vorige artikels:
- Brandwag-skieter se hofstryd duur voort
- Brandwag-skieter skuldig op 24 aanklagte
- Pleitooreenkoms vir Brandwag-skieter
- Steeds geen borg vir Brandwag-skieter
- Brandwag-skieter kry nie borg
- Skietdrama op plaas
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'