MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Brandwag spog met nuut geverfde huise.
Die projek word deur Marlise Bratt (25) en haar man, Jesse (31) gedryf wat vir die sendingsorganisasie, Youth With A Mission (YWAM) werk.
Die Bratts is van Mosselbaai afkomstig en het onlangs na Brandwag getrek om opheffingswerk in die gemeenskap te doen.
Marlise sê dit was 'n roeping dat sy en Jesse tydens die nasionale inperking na die gebied verhuis het.
"Ons het gevoel ons wil Brandwag weer op die kaart sit. Ons verf die huise om toerisme in die omgewing op te bou. Mense moet verby Brandwag ry en die helder, kleurvolle huise sien sodat hulle bewus kan raak van die gemeenskap."
Sy sê hulle wil ook graag 'n padstal by Brandwag op die been bring sodat verbygangers daar kan koffie drink en tyd in die gemeenskap sal deurbring.
"Ons is ook besig met 'n paar langtermynprojekte, soos ons skoenboksprojek. Ons wil vir die kinders van Brandwag teen die einde van die jaar skoenbokse vol geskenke gee." Marlise en Jesse betaal tans self vir die verf wat hulle vir die inwoners se huise koop. "Ons kry ook skenkings van vriende. Enigeen wat verf wil skenk is welkom."
Sy sê dit bied hulle eindelose vreugde om die blydskap op huiseienaars se gesigte te sien wanneer hulle huise klaar geverf is. "Onlangs het ek vir 'n inwoner gevra watter kleur verf sy graag vir haar huis wil gebruik, en sy was oorstelp van vreugde. Sy het vir my gesê dit is die eerste keer in haar lewe wat sy self 'n kleur verf kon kies."
Die Bratts wil 'n ligtoring vir die Brandwag-gemeenskap wees. "Ons beoog ook om 'n groentetuin op die been te bring." Sy en Jesse doen gereeld huisbesoek en sien uit na die volgende huis wat geverf kan word.
Marlise Bratt en 'n inwoner van Brandwag, besig om 'n huis te verf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'