Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Bekende sangpaar Coffee Snobs se jongste snit, Branderkind is pas vrygestel en die musiekvideo daarvan was op 31 Maart amptelik vir die eerste keer op Afrikaanse Musiek Nuus, te siene.
Bo en behalwe dat dit 'n tipiese lekkerluisterlied in Marius en Vernette Wessels se gemaklike styl is, is die musiekvideo so uniek aan Mosselbaai as kan kom, met van die dorp se gunstelingstrande en bekende branderplankryers wat die kollig steel.
Om alles te kroon, is die video vervaardig deur die 18-jarige Luc Prinsloo wat in 2020 matriek aan Curro Mosselbaai voltooi het.
Vernette vertel dat sy vir Luc verduidelik het wat hulle wil hê en dít het hy meesterlik uitgevoer.
"Met die video wou ons Mosselbaai, waarvoor ons so lief geword het, in die kollig plaas," verduidelik Vernette.
In die musiekvideo is 'n kleuter te siene wat as 'n jong seun, 'n jong man en dan as volwassene in die see op sy branderplank baljaar. Die akteurs is Vernette se eie seun, Matthias (5), en plaaslike branderplankryers Wulf Erhardt, FJ Lombaard en Wade Shaw.
Vernette het die lied vir haar seun geskryf. "Dit gaan oor my liefde vir hom, vir die see en die voorreg dat ons hier kan bly en hierdie liefde met mekaar kan deel."
Vir Wade Shaw was dit heerlik om vir die verfilming bloot te kon doen waarvoor hy lief is.
"Dit is so 'n mooi lied. Laat my aan die storie van my eie kinders dink en hoe 'n ouer die verantwoordlikheid het om 'n kind voor God groot te maak. Dit gaan 'n wenner wees."
Vernette en Marius het self in alle erns begin branderplankry sedert hulle in Mosselbaai woon. Inteendeel, beken dié ma van twee wie se dogtertjie, Ruah nou nege maande oud is, dat sy van alles, branderplankry die heel meeste tydens haar swangerskap gemis het.
Luc Prinsloo vertel dat dit sy derde musiekvideo is. Hyself ry lyfplank, dus was die verfilming van Branderkind so reg in sy kraal. Hy meen daar is nie 'n vaste resep vir 'n goeie musiekvideo nie. "Dis instinktief en om die regte kombinasie tussen die shots, bewegings en die musiek te vind."
Luc se toekomsdrome sluit in om 'n onderwater-foto- en -videograaf te word.
Kyk die video hieronder:
FJ Lombaard
Wulf Erhardt
Matthias Wessels
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'