MOSSELBAAI NUUS - In 'n spanpoging tussen die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste, die Wes-Kaapse provinsiale regering, PetroSA en ander deelnemende munisipaliteite van die Suid-Kaap, word brandbestryders in Mosselbaai tans voorberei op nuwe wetgewing wat in 2019 van krag word.
Dán sal niemand sonder die gepaste kwalifikasie toegelaat word om as brandbestryders op te tree nie. Mosselbaai-munisipaliteit het daarom die inisiatief geneem om nou reeds 'n uitdagende kursus, geakkrediteer deur die SA Nooddienste Instituut, te loods.
Mosselbaai se hoof van die brand- en rampbestuursdienste, mnr Joseph Johnston, voorsitter van die vereniging van brandweerhoofde in die Wes-Kaap, sê die nuwe regulasies wat sowat twee maande gelede gepubliseer is, sal meebring dat almal wat die nuwe kursusse voltooi, internasionaal erkende kwalifikasies verwerf. Boonop, sê hy, sal die opleiding die beroep professionaliseer.
"Instrukteurs het verlede jaar 'n baie strawwe kursus oor 18 weke in Wolwekloof bygewoon. Mosselbaai het 'n 100% slaagsyfer gehandhaaf en is dus ideaal geskik om die kursus aan te bied. Kursusgangers, wat nou ook 'n uiters intensiewe kursus deurloop, kom van munisipaliteite in die Eden-distrik, onder meer Hessequa, Kannaland, Oudtshoorn, Bitou en die Eden-distriksmunisipaliteit.
"Die hoof-opleier is Santa Sternsdorf van George-munisipaliteit wat enorme werk doen om van die kursus 'n sukses te maak," sê mnr Johnston. Kursusgangers gebruik ook die woonkwartiere van die Mosselbaai-brandweer vir die duur van die kursus.
Mosselbaai-brandweer se instrukteur, Hein Botha (links agter) gee instruksies oor 'n praktiese oefening aan van die studente.
Uitdagings
Nie alle brandbestryders is ewe opgewonde om weer voor die boeke in te skuif nie. "Die uitdaging is om vir die ervare brandbestryders, wat oor jare en op grond van meriete bevorder is, formele erkenning van vorige ervaring te verkry. Daar word nou hard gewerk om vir brandbestryders wat deur hul werkgewers, die onderskeie munisipaliteite, as professionele persone geag, word, voorsiening te maak.
As deel van die vlak 1-opleidingskursus wat deur veranderde wetgewing nou vereis word, word brandbestryders nie net boekekennis nie, maar ook tawwe praktiese opleiding gegee. Foto's: Nickey le Roux
Trots
Mosselbaaiers is besonder trots op die brandbestryders in diens van die munisipaliteit. Hul besondere diensleweringsrekord is die gevolg van behoorlike investering in voertuie, toerusting en mannekrag.
"Die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste bedien 'n area van sowat 207 000 vierkante kilometer. Die investering in opleiding en behoorlike toerusting, ook die instandhousingsprogramme vir die toerusting, verseker dat ek met vertroue die brandbestryders kan ontplooi na enige noodsituasie," sê mnr Johnston.
Dit gebeur gereeld dat Mosselbaai se brandbestryders se hulp ingeroep word om brande in landelike areas en selfs by buurdorpe, soos die onlangse brande in Knysna, te bestry.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'