Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die reaksie op die brand in Wolwedans wat sowat 30 informele woonstrukture in puin gelê het, het weer eens bewys dat vele hande ligte werk maak.
Spanne van Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdienste is Maandag, 25 Julie omtreeks 12:44 na 'n toneel uitgeroep waar 'n informele struktuur aan die brand geslaan het.
Die vlamme het vinnig versprei en die ander woonstrukture vernietig.
Die brand is omstreeks 14:32 geblus.
Verskeie departemente van die Mosselbaai-munisipaliteit het onmiddellik 'n geïntegreerde reaksie op die noodtoestand gelewer, onder meer in terme van die munisipaliteit se noodlenigingstrategie.
VIDEO - Brand ontstaan in Wolwedans (Video: Verskaf).
Die eienaar van die strukture waar die brand ontstaan het, en wie se naam bekend is aan Mossel Bay Advertiser, het verskeie eenhede aanmekaar gebou.
Volgens inwoners van Wolwedans het sy die strukture uitverhuur. Verskeie klagtes op die gemeenskap van Wolwedans se plaaslike sosiale blaaie dui daarop dat krag van die oorhoofse netwerk na dié en verskeie ander woonstrukture in die omgewing met gevaarlike konneksies herlei word. Baie van die inwoners wat by die eienaar van die woonstrukture huur, is glo Malawiese burgers.
Die Greenhaven-gemeenskapsaal is bewillig om huisvesting aan die brandslagoffers te bied en 'n vullisverwyderingshouer is op die toneel geplaas sodat opruimingswerk dadelik kon begin. Stadsbeplaning en die behuisingsafdeling het noodpakkette wat behuising betref voorsien.
Raadslede Anton Dellemijn, Donovan Claassen en Annie Janse van Rensbrug, Willie Liebenberg, asook die onderburgemeester, raadsheer Cliffie Bayman het besonderse bemoeienis gemaak om die brandslagoffers by te staan.
Claassen, die wyksraadslid, het in besonder melding van sy wykskomitee gemaak wat waarlik skouer aan die wiel gesit het om te help.
Wykskomiteelede, munisipale raadslede en Gift of the Givers by die Greenhaven-gemeenskapsaal.
Gemeenskapshulp
Die Garden Route Casino-gemeen-skapstrust, die gemeenskapspolisieforum, buurtwag en Midbrak-bewarea het ook gemobiliseer om hulp te verleen in die vorm van kospakkies en dies meer. Skenkings is van oraloor ontvang soos lede van die gemeenskap na die brandslagoffers uitgereik het.
Die direktoraat van gemeenskapsdienste het saam met die beskikbaarstelling van tydelike blyplek, ook amptenare gestuur om die toneel en die slagoffers te besoek.
'n Man, net bekend as Kosie, probeer hier met 'n lang stok red wat hy kan uit die warm as.
Die Thusong-sentrum, wat onder hierdie direktoraat val, het hul vennote versoek om toe te tree. Dit sluit SASSA in, asook die departement van binnelandse sake, wat op 1 Augustus dienste aan die brandslagoffers sal lewer in terme van die vervanging van identiteitsdokumente.
Gift of the Givers het Woensdag, 27 Julie, vanuit Kaapstad 'n vragmotor met 'n skenking van matrasse, komberse en kospakkies na Wolwedans gestuur.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, het Wolwedans en Groot-Brakrivier Woensdagmiddag besoek. Kotzé was oorweldig deur die gemeenskap se deernis en sorgsaamheid teenoor die brandslagoffers.
"Ons bedank die gemeenskap van harte dat hulle te midde druk ekonomiese tye nie geskroom het om uit te reik na die inwoners van Wolwedans nie. Dit gee my hoop dat die visie wat ons het vir ons dorp en omgewing as 'n plek van omgee, waar mense gedryf word daardeur om 'n verskil in ander se lewens te maak, wel verwesenlik kan word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'