Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die oplettendheid van twee provinsiale verkeersbeamptes het die lewe van 'n man en sy kat gered.
Verkeersbeamptes Virgil Fortuin en Marizane Hartnick was met patrollie op die N2 to hulle rook by 'n huis opmerk.
Dit was gou duidelik dat dit nie net 'n braaivleisvuurtjie was nie, en hulle het Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste op Sondagoggend, 13 Mei omstreeks 08:00 van die brand in kennis gestel.
Brandbestryders kon daarom betyds reageer en het daarin geslaag om die brand wat by 'n woning in Wassenaarstraat, Seemeeupark ontstaan het, tot die boonste verdieping te beperk.
Volgens aanvanklike berigte het die brand omstreeks 08:00 ontstaan, hoewel die oorsaak daarvan nog ondersoek word.
Nooddienste was baie gou op die toneel en het daarin geslaag om die brand te blus voordat dit tot die grondvlak van die woning versprei het.
Ambulanspersoneel van By Grace-ambulansdienste het 'n man, wat volgens berigte die woning huur en ten tye van die brand die enigste persoon tuis was, vir onder meer rookinaseming behandel.
Die digte rookmassa bo 'n huis in Seemeeupark waar die boonste verdieping op Moedersdag, 13 Mei in 'n brand verwoes is.
'n Kat is ook deur die DBV van die toneel verwyder en vir brandwonde aan sy pootjies behandel.
Laatoggend was brandbestryders steeds op die toneel om te verseker dat die brand nie weer opvlam nie.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'