Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Twee wonings het binne bestek van dae in die Civic Park-woonbuurt afgebrand.
Van Maria Sass se huis in Floresrylaan is daar net vier mure oor. Die huis het verlede Woensdag, 15 April afgebrand.
Op Maandag, 27 April het nog 'n woning in Adolfrylaan afgebrand.
Die houtstruktuur wat aan Boet Minnies behoort, is dalk vir Mosselbaaiers wat op Louis Fourieweg ry, 'n bekende gesig vanweë die rankplante wat dit begroei het. Ná die brand, is daar van dié woning, slegs die vloerplanke oor. Vier kinders, 'n vier maande oue baba, 'n driejarige seun, 'n sesjarige meisie en 'n negerjarige seun, is deel van dié huishouding.
Volgens inligting van 'n betroubare bron na aan die gesin, het die kinders glo in die woning gespeel toe die brand uitbreek. Hulle het egter betyds geslaag om na buite te vlug en niemand is tydens die voorval beseer nie. "Dit is 'n groot verlies, maar niks is goter as lewensverlies nie. Ons is dankbaar die kinders is ongedeerd. Die gesin het baie verloor, maar dalk is hierdie 'n geleentheid om oor te begin en 'n veiliger woonplek te bou," het 'n familielid aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
'n Ernstige beroep word tans op die gemeenskap gedoen om die gesinne by te staan deur middel van skenkings. Daar is, bo en behalwe kruideniersware en klerasie, 'n groot nood aan boumateriaal.
Plaaslike besigheidsman, André Marx, het ingewillig om die gesinne van hulp te wees, veral wat die ontvang en stoor van skenkings betref. "Ek sal help waar ek kan. Ek het baie stoorplek," het Marx aan die Advertiser gesê.
Vir meer besonderhede, kontak Andre Marx (082 787 5544).
Hierdie video van ‘n brand in Adolfrylaan, Civic Park is deur lede van die publiek geneem en aan die Mossel Bay Advertiser gestuur na afloop van die voorval:
Maria Sass by haar afgebrande huis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'