GROOT BRAKRIVIER NUUS - Soggens, wanneer die son oor Groot-Brakrivier opkom en die meeste inwoners nog wakker word, is een man al lankal in 'n landery aan die werk.
Duskant Langstraat, die dorp se hoofstraat en 'n klipgooi van die rivier se oewer sien stappers, drawwers en motoriste daagliks hoe John Erasmus (65) die groente wat hy plant vertroetel en versorg.
Hy is altyd op sy pos. 'n Mens wonder wat gaan alles deur sy gedagtes wanneer hy vir ure aaneen die grond omspit en by sy groente kniel. Van die pad se kant af sien jy hy is passievol oor sy oes.
John woon om die draai in Greenhaven en huur al jarelank 'n stukkie grond by die eienaar, slegs bekend as mnr. Louw. Ander plaaslike inwoners huur ook lappies grond by Louw, blykbaar vir 'n appel en 'n ei en kan sodoende kos aan hul gesinne voorsien.
John is al gewoond aan die honderde muskiete wat hierdie tyd van die jaar op hom toesak. "Hulle is maar hier," sê hy glimlaggend terwyl ek 'n klomp muskiete teen my been doodslaan. Hy steur hom nie veel aan die muskiete nie.
Sy rustigheid is aansteeklik. Ek kom tot die slotsom dat dit is wat gebeur as 'n mens elke dag met jou vingers in die grond rondvroetel. John plant 'n verskeidenheid van groente en noem dit een vir een op. "Wortels, beet, aartappels, uie en kyk dáár, ook pampoen."
Inwoners weet al dat hulle van John se organiese groente kan koop, maar ook net as hy genoeg het en reeds sy gesin versorg het.
Hy slaan dan 'n sambreel op en sit sommer op die sypaadjie langs Langstraat om sy sakkies groente te verkoop. Onlangs het ek 1kg groenboontjies by hom vir R20 gekoop. Dit was heerlik vars.
"Maak jy darem wins?" vra ek. Hy glimlag. "Ag, nie juis nie..." Dit gaan vir hom oor die tyd wat hy in die groenteland kan spandeer en om iets vir ander te kan teruggee.
Hy het vyf kinders en sy gesin smul te heerlik aan die vars groente. Hy is al 42 jaar getroud en ken Groot Brak soos die palm van sy hand. "Dit is goeie grond hierdie," sê hy terwyl hy weer die graaf optel.
John het jarelank as 'n vragmotordrywer vir Transand gewerk. "Maar nou is ek afgetree. Ek hou my besig en kom elke dag na my groentetuin toe.
"Hier is ek elke dag, op my pos."
Wortels, beet, uie, noem dit maar op, as hy dit kan plant, dan plant hy.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'