MOSSELBAAI NUUS - Vir die Deacons is dit onwerklik dat Braam, wat in sy leeftyd nooit 'n operasie ondergaan het nie, so onverwags na chirurgie verlede week gesterf het.
Hierdie bekende en geliefde prokureur van Mosselbaai is Vrydag, 2 Oktober na 'n galblaasoperasie oorlede.
Braam is 'n boorling van Viljoenskroon en het regte aan Universiteit Stellenbosch studeer. Nadat hy as aanklaer en staatsprokureur in Johannesburg gewerk het, beland die Deacons in Mosselbaai, waar hulle sedert 1988 woon. Na baie jare by Rauch Gertenbach, het Braam sy eie praktyk in 2013 begin.
Hulle pa was vir slegs twee maande "afgetree", vertel Braam se dogters, Janneke en Charlotte. Braam het ook 'n seun, Quintus wat tans in Maleisië is.
"Braam was 'n pa vir baie kinders in die dorp. Baie mense het by hom aanklank gevind," sê Deon Lourens, 'n familievriend. Die boodskappe op sosiale media is 'n bewys dat hy geag is as mentor, raadgewer, versorger en vredemaker.
Sy vrou, Hanneke, beskryf hom as 'n natuurlike leier wat op sy stil manier van enige situasie beheer kon neem.
Familie was alles en die vakansies na die wildtuin en ander impromptu avonture, was legendaries.
Die gesin praat verder oor Braam se kunsinnigheid en sy oog vir detail, 'n man van min woorde wat sy kommentaar effektief aangewend het. Braam se liefde vir tuinmaak was inspirerend.
Hanneke het in 2013 vir Braam begin werk. "Hy het my nog 'n paar keer gefire ook," lag sy. Maar uiteindelik het sy die werk saam met hom so geniet dat sy "nooit weer nie wil werk nie".
Braam se gedenkdiens word in die buitelug op 16 Oktober om 11:00 by Salt & Copper gehou.
Persone wat die gedenkdiens wil bywoon word versoek om te RSVP by 082 522 3638.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'