MOSSELBAAI NUUS - "Inwoners wat onwettige bouwerk aanpak, kan verwag dat die munisipaliteit nie daarmee gediend sal wees of dit sal duld nie," aldus die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, wat by navraag bevestig het dat regulasies en verordeninge streng toegepas word.
Dit volg nadat verskeie klagtes oor die nie-nakoming van bou-regulasies onlangs teenoor die Mossel Bay Advertiser geopper is.
In sommige gevalle het die munisipaliteit reeds regstappe teen die regmatige eienaars geneem en kan die detail van geskille nie geopenbaar word nie omdat die inhoud daarvan sub judice is.
Die munisipaliteit nooi inwoners egter om óf via die SMS-lyn, óf via e-pos klagtes oor bouwerk by die munisipaliteit aanhangig te maak sodat die boubeheerbeamte en -ondersoekers op die klagtes kan reageer.
Mosselbaai-munisipaliteit maan eienaars wat voortgaan met bouwerk sonder goedgekeurde bouplanne dat sodanige bouwerk gestop kan word met negatiewe gevolge vir konstruksie-staantyd.
Die Mossel Bay Advertiser het kommentaar ingewin van die munisipaliteit na aanleiding van talle klagtes oor onregmatige bouwerk, onder meer in Bo-dorp, Mosselbaai, asook Danabaai en ander woonareas.
Die munisipale boubeheer-afdeling kry gereeld navrae oor bouplanne en nooi daarom inwoners om voornemende bouwerk met die relevante beamptes op te neem.
Ingevolge die Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde, (Wet 103 van 1977), mag bouwerk nie voortgaan sonder 'n goedgekeurde bouplan nie. Dit is 'n oortreding van die Wet en kan tot 'n boete of selfs tot hofsake lei.
"Vir enige nuwe gebou en aanbouings moet 'n bouplan opgestel word deur 'n bevoegde persoon wat by die South African Council for Architectural Profession (SACAP) geregistreer is.
Eienaars moet dus seker maak dat die tekenaar of argitek wel geregistreer is.
By groepsbehuising of sekuriteitskomplekse waar 'n huiseienaarsvereniging bestaan en ook bou en/of argitektoniese riglyne bestaan, moet die huiseienaarsverenging die bouplanne evalueer en afteken alvorens dit by die munisipaliteit ingedien word," adviseer die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Wat sê die wet
Die Wet maak voorsiening vir kleinbouwerk wat nie volledige bouplanne vereis nie en sluit die volgende in:
- hoenderhok tot 10m²
- voëlhok tot 20m²
- brandstoftenks 10m² en maksimum 2m² hoog.
- gereedskapstoor tot 10m² (staal, hout of plastiek)
- pophuis tot 5m² (staal, hout of plastiek )
- fietsstoor (wendy-huise) tot 5m² (staal, hout of plastiek)
- kweekhuis tot 15m²
- afdak vir boot, voertuig of karavaan tot 40m²
- vrystaande mure van steen, beton, hout, staal, aluminium of draad heinings en nie 1,8m hoogte oorskrei nie en ook nie grond opgevul het teen mure nie.
- pergola's
- verkleekamer tot 10m²
- swembad
- dakvervanging ensovoorts
- verandering van 'n venster na 'n deur en andersom
- uitbreek van binnemure
Vir bogenoemde kleinbouwerk vereis die munisipaliteit slegs 'n terreinplan in A3-formaat met die erfgrense aangedui op 'n aanvaarbare skaal, geteken met die beskrywing, posisie en oppervlakte van die beoogde kleinbouwerk.
Die plan moet ook die oppervlaktes van die werk bevestig en sou die boulyne of enige ander ontwikkelingsparameter oorskry word (hoogtes ens), moet daar eers vir verslapping of oorskryding aansoek gedoen word.
Ouer geboue
Waar geboue ouer is as 60 jaar moet so 'n aansoek ook deur Mosselbaai Erfenisvereniging geëvalueer word.
Lede van die Mosselbaai Erfenisvereniging dien ook op die Munisipaliteit se Estetiese/Historiese komitee wat elke Woensdag vergader.
Planne kan by die geleenthede aan die komitee voorgehou word. In sommige gevalle moet daar ook 'n permit van Wes-Kaap Erfenis bekom word alvorens die bouplan ingedien kan word. Die boubeheerafdeling kan gekontak word vir meer inligting in die verband.
Boulyne
Die munisipaliteit kry soms bouplanaansoeke wat die erfgrense oorskry wat nie toelaatbaar is nie. Eienaars is verantwoordelik om self die eiendomgrense te bevestig en, indien nodig, 'n landmeter aan te stel vir die doel.
Bouplanne moet ooreenkomstig opgestel word.
Eienaars wat voornemens is om te bou en onseker is oor aspekte van bouplan-indiening word aangemoedig om direk die boubeheerafdeling (044 606 5248 / 044 606 5249) te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'