MOSSELBAAI NUUS - 'n Bouer wat 'n voornemende huiseienaar van Monte Christo bedrieg het, is onlangs in die Mosselbaai-landdroshof skuldig bevind op aanklagte van diefstal.
Die beskuldigde, Deon Zandberg (72) het bouwerk vir die klaer (75) wat in KwaZulu-Natal gewoon het by die landgoed gedoen.
Die bouwerk het in 2016 begin en die klaer het gevra dat Zandberg weekliks aan hom verslag sal doen oor hoe die bouwerk vorder. Hy het onder meer vir foto's van die bouery gevra.
Volgens die Da Gamaskop-polisie het die bouer weekliks foto's van die sogenaamde vordering aan die klaer gestuur en dan ook vir nog geld gevra.
Altesaam R1.9 miljoen is aan Zandberg oorbetaal. Die klaer het met 'n skok besef dat die bouwerk inderdaad nie gevorder het nie en het in 2017 'n klag by die Da Gamaskop-polisiestasie aanhangig gemaak.
Zandberg is skuldig bevind op 11 aanklagte van diefstal en is gevonnis tot sewe jaar tronkstraf wat opgeskort is vir vyf jaar.
Hy het ook drie jaar korrektiewe toesig gekry en die hof het gelas dat die geld aan die klaer terugbetaal moet word.
Die polisie waarsku inwoners teen slenters soos hierdie en om slegs gebruik te maak van bouers wat 'n langdurige reputasie en verwysingslys het.
Die ondersoekbeampte in die saak was sers Wendell Januarie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'