MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit bedank elke inwoner en vakansieganger wat ruim bygedra het met skenkings van drinkwater en water vir huisgebruikvir die landbougemeenskappe wat tans een van die uitmergelendste droogtes beleef.
"Dit is wanneer 'n klein dogtertjie met blink ogies dankie sê vir 'n pakkie hondekos, wanneer 'n plaaswerker met blinknatoë vir 'n bottel water naderstaan, dat die waarde van hierdie omgee-aksie besef word," sê Leon van Dyk, voorsitter van die Mosselbaai-GPF wat die projek koördineer.
Die droogtehulpspan onder leiding van die speaker van die Mosselbaai-raad, raadsheer Petru Terblanche, die uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en Leon van Dyk en al hul ondersteuners bedank hul onderskeie borge, onder meer Kuyler Bakwerke wat 'n sleepwa beskikbaar gestel het vir die honderde bottels water wat ook na Kannaland versprei is.
Beaufort-Wes se munisipaliteit het 'n voertuig gestuur om ook van die drinkwater te kom haal omdat die krane daar lank reeds droog is.
Inwoners en vakansiegangers word gevra om met die skenkings vol te hou en water in verkieslik vyf-liter houers af te gee by die Mosselbaai-brandweerstasie of die Groot-Brakrivier-brandweerstasie, of gedurende werkstyd by die Hartenbos-biblioteek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'