Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ná 'n brand naby die treinspoor op die walle van die Hartenbosrivier het 'n besorgde inwoner nadere ondersoek in die omgewing ingestel. 'n Blou denimbroek wat in takke in 'n boom vassit, het hom uiteindelik na 'n bosskuiling gelei.
"Ons gebruik daagliks die paadjie al langs die treinspoor tot by die see. Soms stap ek alleen, soms saam met my vrou, dikwels sien 'n mens jongmense hier loop. Was dit nie vir die denim nie, sou ek waarskynlik nooit op die bosskuiling afgekom het nie," sê die man wat verkies om anoniem te bly.
Hy het sy kommer uitgespreek oor 'n waarskynlike brandgevaar asook misdadigheid wat die bosskuiling tot gevolg mag hê. Die vrees bestaan dat niksvermoedende mense wat die voetpaadjie see toe gebruik, die slagoffers van opportunistiese misdadigers kan word wat hulle teiken vir maklik verhandelbare items soos selfone.
Daarbenewens het die besorgde inwoner gesê hy vrees dat die mense wat in soortgelyke skuilings woon en van vuur afhanklik is vir hitte en om kos te maak, kan bydra tot brande aangesien daar hope droë takke in die omgewing voorkom. Trouens, droë takke verberg juis die toegang na die bosskuiling.
Die bosskuiling bestaan uit verskeie "kamers", hoewel die ablusie-area direk geleë is in die paadjie na die skuiling toe. Voor die skuiling is tekens dat onlangs nog vuur gemaak is. Binne is tientalle drankbottels en bewyse van waarskynlike dwelmgebruik, asook twaksakkies gevind. Borde, skoene en verflenterde klere, 'n matras en verekussing lê rond.
Moses Moodien, 'n sekuriteitsbeampte vir 'n woonkompleks in die omgewing binne een van die "kamers" van die bosskuiling.
"Ek het onlangs nog stemme hier gehoor," sê Moses Moodien, 'n sekuriteitsbeampte wat in die omgewing werk. Met die Mossel Bay Advertiser se besoek het dit nie voorgekom asof iemand tans daar woon nie.
Kyk 'n video hieronder.
Tog is daar duidelike tekens dat dit geruime tyd 'n slaapplek vir 'n aantal mense was.
'n Klein entjie daarvandaan, ook direk langs die treinspoor, is 'n area gevind waar mense duidelik 'n boom onder uitgedun het en in die skadu daarvan gesit het. Hierdie skuiling bied onopsigtelike uitsig oor die voetpaadjie wat daarlangs loop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'