KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Lede van die Klein-Brakrivier VLV-tak het verlede week die internasionale boomplantweek saam met lede van die Groot-Brakrivier bewareagroep gevier.
Daar is deur die tuine van die Groot-Brakrivier-stasie gewandel en 'n besoek is aan verlede jaar se geelhoutboompie afgelê.
Die verfraaiing van die stasietuine is 'n deurlopende projek, onder leiding van Vivienne Frey van die Groot-Brakrivier bewareagroep.
Die groep het hierdie jaar 'n koorsboom geplant. Die koorsboom (Acacia xanthophloea) is inheems aan Afrika en is 'n boom wat tot 25 meter hoog kan word. Die baskleur is lemmetjiegroen tot geelgroen en is glad met 'n geel poeier op die oppervlakte. Die boom het lang, reguit dorings wat in pare voorkom. Die boom het dubbelveervormige, saamgestelde blare.
Vroeë pioniers in Suid-Afrika het geglo dat hierdie boom koors veroorsaak, aangesien die mense wat in die gebiede gereis het waar die bome voorkom, koors ontwikkel het – vandaar die naam. Die bome het oorspronklik in gebiede wat moerasagtig is voorgekom. Dit was egter die muskiete wat in die water gebroei en malaria gedra het, wat die oorsaak van die koors was.
Hierdie groep vroue van Klein Brak VLV het almal gehelp.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Brakrivier, Tuinroete nuus'