MOSSELBAAI NUUS - Onlangs is verskeie gevalle aangemeld waar inwoners gevestigde bome, onder meer skaars inheemse en beskermde geelhoutbome, op sypaadjies onwettig gesnoei, beskadig (geringbas of vergiftig) en sonder die nodige munisipale toestemming afgekap of verwyder het.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se boombeleid is in April 2021 deur die raad goedgekeur.
Daarvolgens mag geen boom op munisipale eiendom sonder die toestemming van die direkteur van gemeenskapsdienste gesnoei, afgesaag of verwyder word nie.
Munisipaliteit doen alles moontlik om bome te bewaar en sodoende die dorp te vergroen.
Tog is daar inwoners wat nie bome na waarde ag nie en nie deel in die munisipaliteit se strewe om deur bome die leefruimte te verbeter nie.
Bome wat see-uitsig versper word geringbas, vergiftig of beskadig om die boom te vernietig. Selfs kinders verniel nuut geplante bome se takke en dra by tot die vernietiging.
Die munisipaliteit bly verantwoordelik vir die onderhoud van alle bome wat op munisipale eiendom, soos onder meer sypaadjies, geleë is.
Sou 'n boom se takke oorhang tot in privaateiendom, kan aansoek gedoen word om die boom op eie koste te snoei.
Indien bome onwettig gesnoei, beskadig, afgesaag of verwyder word, sal die Verordening insake Publieke Oorlaste toegepas word. Hiervolgens kan die beskuldigde 'n boete van R5 000 opgelê word.
Die onwettige verwydering van 'n beskermde spesie, soos onder meer 'n melkhout- of geelhoutboom, by die departement van omgewingsake aangemeld word, wat 'n verdere boete kan uitreik wat tienduisende Rand kan beloop en/of 'n vonnis van tronkstraf kan meebring.
"Mosselbaai-munisipaliteit vra dus inwoners om te help om ons bome te bewaar. Die munisipaliteit sal inwoners se samewerking om ons omgewing te help bewaar, werklik op prys stel."
Navrae kan per e-pos gerig word aan admin@mosselbay.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'