MOSSELBAAI NUUS - "Willie Blaauw was die ruggraat van Bolt Man, hy was nie net die bestuurder nie, hy was vir 18 en 'n half jaar my regterhand, my vriend," sê 'n aangedane Dienie van Andel.
Sy het aan die Mossel Bay Advertiser gesê Willie, wat Saterdag, 20 Oktober, kort voor middernag in 'n botsing op die Rooiheuwelpad oorlede is, het kort na haar eggenoot se dood in 1999 by haar in die besigheid aangesluit en was sedertdien vir haar 'n steunpilaar gewees.
"Saam het ons sedertdien Bolt Man opgebou, dis nog baie onwerklik dat hy dood is." Volgens die Advertiser se susterskoerant, die Oudtshoorn Courant, was Willie alleen vanaf Oudtshoorn in die rigting van Rooiheuwel onderweg toe sy Volkswagen Polo naby die diereskut die pad verlaat het.
'n Patrollie-voertuig van die SAPD het op die botsing afgekom.
Hoewel sy familie op Oudtshoorn woon, het Willie en sy 21-jarige seun 'n woonstel in Heiderand gedeel.
Dienie sê Bolt Man nooi vandag, Vrydag 26 Oktober, hul klante en vriende om die winkel te besoek waar hulde aan Willie gebring sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'