MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Danabaai het hulle na sosiale media gewend nadat die Blue Ridge Estate onlangs met 'n heining afgesper is en bokke aan weerskante van die palisade vasvang was.
Inwoners het op Facebook geskryf dat die bokke, wat 'n bekende gesig op Danabaai is, verward is nadat die diere uit die gebied verjaag is en daar 'n heining opgerig is.
Nie al die bokke is egter uit die gebied verjaag nie en nadat 'n heining opgerig is het inwoners foto's geplaas van bokke wat aan weerskante van die heining staan.
Die probleem is intussen egter opgelos.
Volgens 'n inwoner van Blue Ridge het almal nie saamgestem om die gebied af te sper nie. "Sommige van die huiseienaars wou keer sodat die bokke vrylik kon rond beweeg."
'n Nuwe inwonerskomitee is kort na die voorval gestig waartydens die besluit om die heining op te rig, omgekeer is.
Die heining is intussen verwyder en die bokke loop weer vry rond.
Die Danabaai-bewarea het die voorval bevestig. Blue Ridge Estate val egter nie onder die bewarea se jurisdiksie nie en dit het die bewarea verhoed om te kon ingryp.
Die nuutverkose voorsitter van die komitee kon nie teen die ter perse gaan vir kommentaar bereik word nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'