WES-KAAP NUUS - Boere in die Wes-Kaap word versoek om deel te neem aan ’n registrasieproses sodat ’n boereregister opgestel kan word.
Die registrasieproses is op Woensdag 20 November op die departement van landbou se navorsingsplaas Langgewens buite Malmesbury deur dr. Ivan Meyer, die provinsie se minister van landbou, van stapel gestuur.
Die registrasieproses word gedryf deur Statistiek Suid-Afrika en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
Die doel daarvan is om ’n volledige lys van kommersiële en kleinboere in die land saam te stel.
Daar word gehoop om statistiek van veral kleinboere op datum te bring. Die inligting sal nuttig wees vir die meting van prestasie. Dit sal ook help met die opstel van ’n bestedingsraamwerk oor die mediumtermyn wat in pas gebring kan word met die nasionale ontwikkelingsplan.
Voorts is die register noodsaaklik om kleinboere te identifiseer met betrekking tot hul ligging en landbou-aktiwiteite. Dit sal help om die impak van landbou-ondersteuning wat vir natuurlike en onnatuurlike rampe aangewend is, te moniteer en vas te stel wie ondersteuning nodig het.
Landbouvoorligtingsbeamptes sal die kleinboere se registrasie hanteer, terwyl Stats SA met kommersiële boere sal werk. Die projek duur van 2010 tot 2021 en alle klein- en kommersiële boere sal hopelik in die tydperk geregistreer word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'