MOSSELBAAI NUUS - Die sien van 'n kaal graf sonder 'n enkele blom daarop, het daartoe gelei dat 'n handjievol vrywilligers nou blomme vir soms net minder as 10 begrafnisse weekliks verskaf. En dit, gratis.
Nie een van hulle het enige opleiding in die maak van kerk-, kis- en grafruikers nie, maar na amper vier jaar staan dié spannetjie van vyf se hande vir niks verkeerd wanneer dit by blommerangskikking kom nie.
Hulle help enigiemand, sonder aansien des persoons. Aanvanklik was die fokus slegs die armlastiges, wat waarlik nie blomme kan bekostig om aan hulle afgestorwe geliefdes 'n waardige begrafnis te gee nie.
Blomme word geskenk of uit hul sakke aangekoop, soos nodig. Maar deesdae en met 'n paar swaar maande agter die rug, vanweë meer sterftes en 'n swak ekonomie, moes hulle herbesin.
"Waar mense kan bekostig om ietsie te betaal, vra ons vir 'n donasie. Ons stel dit egter duidelik dat ons nie blomme verkoop nie," verduidelik Rosina Ruiters, plaaslike munisipale raadslid en onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit. Saam met haar in die tuig is kollegas Niklaas Booisen en Erica Meyer. Later het helpers Kathleen McCarthy en Regina Petersen bygekom.
Van klein begin, nader mense hulle nou al met vrymoedigheid. Aanvanklik het hulle eers na die mense in hulle onderskeie wyke uitgereik, maar so bekend het hierdie liefdeswerk geword, dat hulle vandeesweek selfs blomme Grabouw toe gestuur het.
Kortsteel-proteas kry hulle by die blomplaas in Friemersheim, andersins word waar moontlik, blomme wat by winkels afgemerk is ingespan.
"Dit sal baie help as mense wat loof of mooi blomme in hulle tuine het ons kan kontak. Op hierdie manier as hulle ons help, bied ons sommer 'n gratis snoeidiens," skerts Ruiters.
Niklaas Booisen voeg by dat die beste betaling die verligting is wat hulle aan roubeklaers bied. "Om daardie kommer van mense se skouers af te lig in 'n moeilike tyd, is vir ons genoeg."
Rosina Ruiters met een van die begrafnisruikers wat sy en 'n handjievol vrywilligers grotendeels gratis aan behoeftige families verskaf.
Ruiters sê dat sy Sondae familiegrafte besoek en dat dit dan haar hart baie goed doen om hulle nou al kenmerkende ruikers op grafte te sien.
Vrydag maak hulle weer so. "Dan staan ons almal weer om die tafel vol blomme en skep orde uit die choas," lag Ruiters.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'