MOSSELBAAI NUUS - Jou grootste Kersgeskenk aan iemand hierdie Kersfees kan dalk 475ml bloed wees.
Die Wes-Kaapse bloedoortappingsdiens is in die rooi, wanneer hulle elke dag hierdie feesseisoen hulle deure oopmaak met slegs genoeg bloed vir drie dae om lewens te red. Van punt tot punt moet hulle daagliks ry, skenkings-lokale inrig en hoop op skenkers om hul hoop te gee vir nog drie dae.
In 'n persverklaring deur die bloedoortap-pingsdiens word die skenking van bloed as "iets besonders beskryf".
Een skenking van 475ml bloed kan drie lewens red.
Michelle Vermeulen, skakelbeampte vir die Wes-Kaapse bloedoortappingsdiens het Woensdag, 19 Desember gesê, "mense dink die bloed word net vir noodgevalle gebruik.
Ons wend dit aan vir alledaagse gebruik, soos in gevalle van trauma, brandwonde en baie ander mediese gevalle."
'n Paar voorbeelde van die mediese gevalle is leukemie, bloedarmoede, hemofilie en as 'n stollingsagent of ondersteunende terapie tydens 'n beenmurg oorplanting.
"Indien jy 'n gesonde persoon is wat 'n veilige seksuele lewenstyl handhaaf, meer as 50kg weeg en tussen 16- en 65 jaar oud is, is jy geskik om bloed te skenk."
Die bloedoortappingsdiens beskryf bloed as werklik ongelooflik.
"Dit is wat ons aan die lewe hou. Aangesien dit nie kunsmatig herproduseer kan word nie, is die enigste wyse om dit te bekom deur vrywillige bystand van die merkwaardige bloedskenkers."
'n Skenker kan elke 56 dae 'n bloedbank besoek om bloed te skenk.
Twee dae en plekke om in jou Mosselbaai-vakansiedagboek aan te teken vir bloedskenk, is Donderdag, 27 Desember van 10:00 tot 15:00 by die Langeberg Mall en Donderdag, 3 Januarie van 12:00 tot 18:00 by Mosselbaai Mall.
Vir meer inligting kan die bloedoortappingsdiens by 021 507 6300 geskakel word.
Paul Abrahams het met 'n Kershoed sy bloed vir dié Kersfees geskenk. By hom staan Heinrieh Prins (skenkings-gasheer), sr Carmen Hansford, Jackies Smit (spanleier) en sr Melanie Joseph. Foto: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'