Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Eden FM se bestuur het al lank 'n droom gehad om 'n blaasorkes- en kersfeeskoor-kompetisie aan te bied om die deelnemers se vaardighede en talente bekend te stel aan die gemeenskap.
Die droom het op Sondag, 6 November gestalte gekry toe 11 blaasorkeste en brigades aan die kompetisie by die Groot-Brakrivier-sportstadion deelgeneem het.
Volgens die direkteur van Eden FM, Morné Peterson kom die orkeste, kore en brigades van so ver as Suurbraak in die Heidelberg omgewing, Zoar in Kannaland, Hessequa, George, Mosselbaai en Plettenbergbaai.
Die orkeslede word beoordeel op grond van marsjering, bes-geklede orkeslede, dissipline en organisering. Deelnemers het gewissel in afdelings van seniors, juniors en kleiner kinders wat as "tiny tots" bekend staan. Lede van die Mosselbaai en Groot-Brakrivier-polisiestasies het die beoordeling gedoen.
Cliffie Bayman, onderburgemeester van die Mosselbaai-munisipaliteit, het klem gelê op die belangrikheid van die kompetisie om jeugontwikkeling en dissipline te bevorder, omdat sosiale probleme soos dwelmgebruik 'n groot bekommernis vir die gemeenskappe is.
FOTOGALERY: Blaasorkeste en brigades neem deel aan kompetisie
Peterson vervolg, "Die kompetisie is 'n herlewing van die kultuur van die Suid-Kaap streek se mense waar orkeste en kore by groot geleenthede soos troues en begrafnisse opgetree het. Die brigades wat met skoolkadette en jeugweerbaarheid vergelyk kan word wat in vroeër jare in skole algemene gebruik was, is 'n belangrike instrument vir gemeenskappe om kinders die regte waardes te leer, godsdienstig op te voed, uit die strate te hou en weg van dwelmmisbruik te hou".
Die Groot Brak Brass Band het die eerste plekke in die senior-, junior- en solo-kompetisie ingepalm en Suurbraak het die beste kleredrag en die "tiny tots" afdelings gewen. Die algehele eerste plek is deur Suurbraak se Young Coronations gewen met Groot Brak Brass Band in die tweede plek, St Albans Anglican Brigade was derde en St Moses Christmas Choir vierde.
Volgens Peterson van Eden FM, word die kompetisie 'n jaarlikse instelling wat op die eerste Sondag in November in 2023 weer aangebied sal word.
VIDEO - Morne Peterson, direkteur van Eden FM:
VIDEO - Cliffie Bayman, onder-burgemeester van die Mosselbaai Munisipaliteit:
VIDEO - Dayton Blaauw van Groot-Brakrivier is reeds 8 jaar in die orkes:
VIDEO - Ninette en Ehrich Stoffels verduidelik die brigades en wat dit vir kinders beteken:
VIDEO - Elroy Kees from C Harmony in Mossel Bay:
Lede van die Young Coronations Tiny Tots van die Suurbraak-omgewing wat hulle afdeling gewen het. Foto: Alet Engelbrecht
Die Eden FM-kompetisie is goed bygewoon deur besoekers van die verskillende gemeenskappe.Foto: Dewald de Kock
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'