TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Loretta Flores se lewe was nie altyd maanskyn en rose nie. Allermins. Maar in plaas daarvan dat dit van haar 'n bitter mens gemaak het, het dit haar 'n deernisvolle hart gegee.
Vandag is sy deel van Bietouville se buurtwag en doen sy reeds drie jaar lank in die traumakamer diens.
Hier werk sy nie net met mense se stukkende harte en emosies wanneer sy berading doen nie, maar alte dikwels gee sy ook mediese sorg.
"Ek het kleintyd al besluit dat as ek eendag groot is, ek iets vir ander mense wil doen." Dít doen sy met oorgawe. Dis immers haar ruim omgeehart wat haar die naam Liefie besorg het.
Onder die gemeenskap, waar kinders dikwels oor naweke aan hulle eie genade oorgelaat word, verskaf sy voedsame maaltye by 'n sopkombuis wat sy bedryf. Om toe te sien dat volwassenes steeds hul verantwoordelikheid teenoor die kinders in hulle sorg aanvaar, word kos nie bedien oor naweke wanneer kindertoelae uitgereik word nie.
Soms kom die kinders egter by haar huis kos vra. En 'n honger kind kan sy nie wegwys nie. Inteendeel, sy meen vir haar is om met die kinders te werk die heel lekkerste van wat sy doen. "Ek noem hulle almal sommer mý kinders."
By die sopkombuis is daar egter vaste reëls, wat veral gedurende die Covid-19-pandemie van toepassing is.
"Die kinders weet jy moet kom met jou masker op en staan op die plekke wat ek merk." Sy noem dat dit nie altyd maklik gegaan het met kosvoorsiening in die vroeëre, meer beperkende vlakke van die nasionele inperking nie.
Die gemeenskap van Gouritsmond help waar hulle kan, maar om enige projek volhoubaar te maak, word gereelde skenkings, asook ander hulp altyd verwelkom.
Vleis en vars groente, selfs al het die sopkombuis sy eie groentetuin, is nie altyd geredelik bekombaar nie. Die groot nood, verduidelik Liefie, is eintlik by die traumakamer. "Ek behandel gereeld beserings soos meswonde, ook brandwonde." Vir die basiese wondsorg wat sy doen, het sy altyd 'n voorraad van ontsmettingsmiddel, antiseptiese salf, pleisters, gaas en dies meer nodig.
Enigiemand wat bereid is Loretta 'Liefie' Flores se werk te ondersteun, kan haar medewerker op Gourits, Hanli Venter kontak (084 854 3105).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'