MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het op Sondag, 9 Februarie in groot getalle dank gebring vir die reën waarmee die area onlangs geseën is, reën wat vir baie die uitmergelende droogte verlig het.
Op uitnodiging van die uitvoerende burgemeester, Raadsheer Harry Levendal is hulde gebring vir die verligting van die droogte vir dorpenaars. Tog is daar ook 'n nederige bede gebring vir uitkoms vir die landelike en landbougemeenskappe in die groter Mosselbaai, asook vir naburige gemeenskappe van die Karoo.
Op versoek, het gebede ook opgegaan vir diegene wat blootgestel is aan die CaronaVirus, veral in China, soos ook Australië waar slegs reën die wegholveldbrande onder bedwang sal kan bring.
Burgemeester Levendal het veral ook hulde gebring die Speaker, Raadsheer Petru Terblanche vir die inisiatief om water vir huisgebruik vir landbou-gemeenskappe in te samel en aan die sakegemeenskap, individue en organisasies wat water bygedra en gehelp het om dit na begunstigdes te versprei. "Ek bedank die besighede wat vervoer vir die geborgde water na die landelike gebiede, ook vir plaaswerkers, voorsien het.
Mosselbaaise dorpenaars kan weer tuine natlei, maar die droogte is nog fel tasbaar in die landelike gebiede. Daarom is die hoop uitgespreek dat water steeds baie spaarsamig gebruik sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'