MOSSELBAAI NUUS - Na onlangse gevalle waartydens nooddienspersoneel van 'n ambulansdiens in die KwaNonqaba aangerand is terwyl hulle aan diens was, is 'n deur-tot-deur-veldtog geloods om inwoners bewus te maak van die noodsaaklikheid van hierdie belangrike dienste.
Daar is uitgestip dat, sou hierdie voorvalle voortduur in die woonbuurt, sal noodpersoneel en munisipale werkers genoodsaak word om nie in die gebiede in te gaan nie.
Woensdag, 23 Oktober het lede van verskeie nooddienste, die polisie, personeel van korrektiewe dienste en die uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, die speaker, raadsheer Petru Terblanche en verskeie ander raadslede deur die strate van Aslapark gestap en pamflette uitgedeel.
Dit het hoofsaaklik ten doel om die gemeenskap bewus te maak van die noodsaaklikheid van die nooddienste.Die gemeenskap is ook ingelig oor hul eie veiligheid en die belangrikheid van buurtwagte om hul woongebiede veiliger te maak.
Jethro Grootboom, van die Goverment Communications Information Systems (GCIS), het voor die veldtog gesê dat die ontrekking van noodsaaklike dienste uit woonbuurte sal die gevolg hê dat gemeenskappe verder in misdaad gaan verval. "Om hulle bewus te maak van die noodsaaklik dienste is 'n taak wat ons moet verkondig in die gemeenskap," het Grootboom gesê.
Nooddienste, die polisie, personeel van korrektiewe dienste, verskeie munisipale amptenare, asook besorgde inwoners het Woensdag, 23 Oktober pamflette uitgedeel in Aslapark om misdaad in die aan te spreek. Foto's: Jannie du Plessis
Raadslid Anton Dellemijn oorhandig 'n pamflet aan 'n taxi-bestuurder.
Jethro Grootboom oorhandig hier 'n pamflet aan een van die inwoners.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'